Monday 28 October 2019

Waar water is, is daar LEWE

Ons persepsies


Dit is weer Somer. Die kinders wil swem en met 'n swembad, wat grens aan 'n grasperk en bome, raak die onderhoud nou 'n daaglikse instelling. Nodeloos om te sê - 'n frustrasie ook. Maar, dis wat jy wil doen, as jy die vrolike klanke van gelukkige kinders, elke dag wil hoor in jou besige grootmens wêreld.

Waar water is, is daar LEWE.

Verlede week maak ek toe weer swembad skoon. Na honderde ure van 'pool-boy' speel met 'n visnet aan 'n lang stok, het ek uiteindelik toe slimmer geword en een van GloMail se puik uitvindsels aangeskaf, wat jy aan die uitlaat van die swembad pomp verbind en hy doen sommer al die harde werk vìr jou. Die beste R400-belegging ooit.

Een keer 'n week, skud jy net hierdie flottasie toestel se sykous uit van al die swerwende blare en gras, wat die seuns in die swembad ingetrap het en hey...
'Bob's-your-uncle.'

Nietemin, hierdie week wou my 'sykous' geen blare vang nie. Na verdere ondersoek vind ek toe uit, dat die pomp nie meer alles so lekker suig nie. Met genoeg deursettings vermoë, soek ek die probleem deur die 'wet-van-uitskakeling'.

Diagnose: Dit was toe die swembad filter, wat tot oorlopens toe vuil en verstop was. Geen water kom meer deur nie. Die operasie staan. As die kalf nie nou uit die put gered word nie, sit ek weer met groter uitdagings, soos groen alge en melkbaddens. Of dikbêk kinders, wat nie kan swem nie en geen vrolike geluide vanaf die agterplaas nie.


Terwyl ek die filter sorgvuldig skoonmaak, praat my Here met my. Hy maak my toe verstaan, dat ek ook nog 'persepsie filters' het, wat vuil is en ook Sy 'vloei van lewende water' deur my na ander, staak en verhoed om te vloei. Waar daar vloeiende water is, is daar mos lewe, nie waar nie? Wanneer water stilstaan en daar is geen natuurlike vloei nie, kan dit sleg en onbruikbaar word.

In daardie oomblikke, berispe Abba my toe sagkens met die woorde: 'Ek kan soveel MEER deur jou doen, My seun, as jy My nie beperk met jou besmette persepsies nie. Jy moet filters skoonmaak, My kind. Anders sit jy binnekort met groen alge in jou verwysing van wie Ek IS en ook, wie Ek vir jou wil wees, en jy gaan ook ander behandel, sonder My liefde, genade en wysheid. Jou visie gaan 'melkerig' word en jy gaan nie meer My waarhede kan raaksien, vir wat dit werd is nie. Gee jou filters. Ek sal dit skoonmaak.'

God is goed en soos altyd, het Hy Sy ewige Woord aan my kom bevestig met Spreuke 23:7 wat sê: 'Want soos die mens in sy siel [sy filters] bereken, so IS hy.'

Gun my om te sê, dat ek nog steeds 'n 'goeie werk in proses is' en Sy genade is genoeg.

Gebed:

"Vader, ek bid dat U my altyd leerbaar sal hou. Ek bid, dat U meer kan verander in my, wat ek kan erken. Vergewe my, vir my vuil filters, Vader. Ek gee U my filters om skoon te maak. Ek gee oor. Verander ook my realiteite daardeur, Here. Ek kies LEWE."

 Geskryf deur: hennie van der westhuizen
(info@paragonlife.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...