Monday 7 October 2019

Dors na die Woord



Amos 8:11: "Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek 'n honger in die land stuur, nie 'n honger na brood nie en nie 'n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor."

Mense vra my gereeld wat sien ek is besig om in die geestelike te gebeur, soos wat ons deur Suid Afrika en ander lande reis om te bedien? En dan is my antwoord gereeld dat ek Amos 8:11 rondom my sien gebeur.

Want daar is orals 'n honger om die woorde van die Here te hoor, selfs op plekke waar mense soms nie eens kos het om te eet of water het om te drink nie.  Duidelik het hulle geleer dat fisiese kos en water hulle niks kan help in die ewigheid nie, maar die woorde van die Here bring vir hulle ewige redding. Dit is iets wat nie bereken kan word of enige fisiese of monetêre waarde aan gekoppel kan word nie.

Ek sien ook al hoe meer die werklikheid van wat Jesus gespreek het in Mattheus 5:6:
"Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word."

Geregtigheid is in gewone taal, God se manier van dinge doen. Ek sien ook hoe mense in hulle gewone lewens begin honger en dors na God se manier van dinge doen, en ek sien ook hoe hulle geestelik versadig raak daardeur, ongeag hoe beroerd hulle fisiese omstandighede lyk.

En dan lui Jesus se dringende uitnodiging in Openbaring 22:17 ook in my ore:
"En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat DORS het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet."

Is jy al honger en dors na die woorde van die Here in die Woord van die Here, geliefde? Ongeag hoe jou fisiese omstandighede daar uitsien? Of veroorsaak jou fisiese omstandighede dat jy moeg en moedeloos raak en nie meer wil ag slaan op God en Sy woorde in Sy Woord nie?

Want jou tydelike fisiese omstandighede bepaal nie jou ewige toekoms nie, slegs jou persoonlike verhouding met Jesus Christus kan dit bepaal. En as jy na Hom toe gaan, soos Hy jou in Openbaring 22:17 uitnooi, dan sal Hy jou versadig, met die fisiese, en ook met die ewige.

Mag ons Hemelse Vader jou in hierdie week ook 'n honger en 'n dors gee na Sy woorde in Sy Woord sodat jy Sy deurbrake in jou fisiese omstandighede kan begin sien, maar ook die wonderlike vooruitsig sal hê om vir ewig saam met Hom te wees. Hy gee dit immers verniet.


GEBED: 

"Vader, gee ons in hierdie week 'n nuwe honger en dors om U woorde te hoor vanuit U Woord. En dankie dat ons kan weet dat U ons wil voed, beide met die fisiese, maar ook met die ewige geestelike beloftes wat U verniet uitdeel aan die wat na U toe kom. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...