Monday 21 October 2019

Geen veroordeling



Romeine 8:1: "Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees."

Hierdie is een van daardie wonderlike teksverse in die Bybel om werklik op 'n daaglikse basis ons eie te maak.

As ons weet dat ons Jesus Christus aangeneem het volgens Johannes 1:12,13, en dat ons Hom met ons mond bely het en glo dat God Hom uit die dood opgewek het, volgens Romeine 10:9,10, en Hom gevra het om ons te lei deur Sy Heilige Gees, volgens Romeine 8:14, dan bevind ons onsself IN Christus Jesus.

En as ons onsself IN Christus Jesus bevind, en gelei word deur Sy Heilige Gees, dan is daar GEEN veroordeling vir ons nie.


Maar terselfdertyd moet ons nie die voorwaarde in daardie teksvers, mislees nie. Daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die WAT NIE NA DIE VLEES WANDEL NIE, maar na die Gees.

As ek myself dus 'n kind van God noem, maar willens en wetens aanhou sondig en die dinge van die vlees soek en najaag, kan ek nie aanspraak maak daarop dat daar vir my geen veroordeling sal wees nie.  Daar is slegs geen veroordeling, as ek IN Christus Jesus is EN na die Gees wandel, met ander woorde, onder leiding van Sy Heilige Gees, soos Romeine 8:14 ons wys.

Kom ons vra dus ons Hemelse Vader om ons in hierdie week in elke moontlike situasie te lei deur Sy Heilige Gees, sodat ons nie sal wandel deur die vlees nie, maar deur die Gees. Want dan kan ek weet sal daar vir my geen veroordeling wees nie.


GEBED: 

"Vader, baie dankie dat ek mag weet dat as ek IN Christus Jesus is, en wandel deur die Gees, daar vir my geen veroordeling sal wees nie. Lei my en leer my in hierdie week om die dinge van die vlees te weerstaan op 'n daaglikse basis sodat ek kan weet daar is dan vir my ook geen veroordeling nie. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...