Monday 14 October 2019

Jou onreinheid


Nadat die vyand weer die afgelope week probeer het om my vorige onreinheid teen my kop te gooi en my deur 'n gelowige boeta probeer oortuig het dat ek nogsteeds skuldig staan voor die Here, het Vader my weer op verskeie maniere herinner dat ek reeds deur Sy bloed gewas is en dat daar geen skuldbrief teen my uitstaande is vir die sonde van die verlede wat ek reeds teenoor Hom bely het nie. Dit het ek natuurlik ook geweet en het ek die aantygings met 'n “heilige woede” verwerp!

Ek het egter in hierdie laaste jaar sóveel mense bedien wie hulself nie kan vryspreek of aanvaar dat Vader hulle vergewe het nie. Tog kom hulle aan die einde van elke sessie tot besef dat die vyand hulle net gebind wil hou en neem hulle die besluit om hulself te vergewe. Wanneer ek hulle lei in gebed en by die deel kom waar hulle hulself by die naam moet vryspreek, dan sukkel sommige só om hul eie naam te noem dat dit soms 'n rukkie vat om dit uit te kry.

Tog is dit juis ons onreinheid wat vir ons 'n pad oopmaak reguit na Jesus toe indien ons bereid is om ons sondes na Hom te bring dat Hy ons in Sy bloed kan was.

Vader het my konstant herinner aan die vrou met die bloedvloeiing wie se onreinheid juis vir haar 'n pad oopgemaak het tot by Jesus.

Mat 9:20  En daar het ‘n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter gekom en die soom van sy kleed aangeraak.
Mat 9:21  Want sy het by haarself gesê: As ek maar net sy kleed kan aanraak, sal ek gesond word.
Mat 9:22  En Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af.

In daardie tyd was daar 'n wet wat bepaal het dat as 'n vrou in haar tyd van maandstonde was, dat sy dan onrein is totdat dit verby is en sy haarself gereinig het. Alles waaraan sy sou vat sou ook onrein wees en enige iemand wat haar sou aanraak sou ook onrein word. Die wet was dan ook dat indien enige iemand onrein sou wees as gevolg van watter rede ookal, hulle hardop moes verklaar dat hulle onrein is wanneer hulle in die openbaar beweeg het of as iemand naby aan hul sou kom.

Vir hierdie vrou om dus deur die skare te kon kom tot by Jesus, moes sy haar onreinheid bekend maak, anders sou hulle haar doodgemaak het as dit bedek was en later op die lappe sou kom. Sy het verder ook nie die liggaamskrag gehad om deur die skare te kon stoei om naby Jesus te kom nie. Haar onreinheid het dus vir haar 'n pad oopgemaak reguit na Jesus toe en in geloof het sy toe haar genesing ontvang soos sy geglo het.

Ek wil dus vandag elkeen uitnooi wié nog stoei met vorige sondes of wié homself/haarself nie kan vryspreek vir vorige dinge nie, om daardie dinge na Jesus toe te bring en jou genesing te ontvang dat jy kan vrykom van die leuens van die vyand. Die Bybel is duidelik dat God nie meer aan jou sondes dink as Hy dit vergewe het nie, só waarom laat jy die vyand toe om jou daaraan te herinner?

1Joh 1:9  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Heb 8:12  Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.

1Joh 1:7  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.


 GEBED: 
Here Jesus, baie dankie vir U genade wat só ontsettend groot is vir ons dat U die vorige sondes selfs nie eers onthou nie. Kom help elkeen van ons om in die lig te wandel deur U genade te aanvaar sodat ons ook onsself kan vergeef soos wat U reeds gedoen het...amen!


Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...