Tuesday 1 October 2019

Aangename geur



2 Korinthiërs 2:14 - 16: "Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is 'n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste 'n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste 'n reuk van die lewe tot die lewe."

Ons sien hier die wonderlike bevestiging dat God ons altyd laat triomfeer in Christus. En wat het daardie triomf in Christus tot gevolg in ons persoonlike lewens?

Dit versprei die reuk van sy kennis orals - deur ONS! God het ons dus nodig om die reuk van Sy kennis te versprei na die wêreld rondom ons. Ons moet dus soos 'n plant wees wat 'n baie spesifieke geur afgee as iemand met ons te doen kry.

En ons moet ook nie skaam wees, of huiwer om God se geur af te gee teenoor die wêreld nie. Jesus sê immers as ons Hom verloën voor die mense, sal Hy ons ook verloën voor Sy Vader wat in die hemel is.

Maar die vraag is, watter geur gee ons af teenoor diegene rondom ons, hetsy in ons gesinne, of by die werk, of in ons sosiale lewe?

Is ons vir hulle 'n aangename geur van lewe tot lewe, met ander woorde lei ons optredes teenoor hulle daartoe dat hulle ook gaag die lewe van Christus wil hê wat hulle in ons sien en ervaar?

Of is ons vir hulle 'n geur van die dood tot die dood, met ander woorde dat ons optredes hulle 'n afkeer gee aan ons en wat ons glo, omdat ons dalk skynheilig is?

Maar natuurlik is ons, as ons wel in ware heiligmaking lewe, weer vir nog andere óók 'n geur van die dood tot die dood, wat bloot beteken ons heiligheid en opregte lewens "stink" vir hulle, want hulle kan ons nie verdra nie, omdat hulle nie die lig wat uit ons uitstraal, kan verdra nie.

Mag ons ewige Skeppergod jou in hierdie week ook laat triomfeer in Christus, sodat jy ook vir sommige 'n aangename geur kan wees van lewe tot die lewe, en moenie bekommerd wees as daardie aangename geur vir andere rondom jou 'n geur van die dood tot die dood is nie. Mag jou lig vir Jesus so skyn dat dit die duisternis in hulle kan verdryf.


GEBED:

"Vader, baie dankie dat U ons altyd laat triomfeer in Christus. Gee my asseblief hierdie week die krag om 'n aangename geur te wees, en om vir diegene rondom my 'n geur te wees van lewe tot lewe, en oortuig asseblief diegene wat U nog nie ken nie, en wat my aangename geur mag ervaar as dood tot die dood, om U ook in hulle lewens in te nooi. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...