Tuesday 5 November 2019

Julle vra verkeerd!


Baie kinders van die Here worstel met die kwessie van sogenaamde “onbeantwoorde gebede” en is dit vir ons moeilik om te verstaan dat as God dan ons hemelse Pappa is, hoekom antwoord Hy nie ons gebede nie? Dit is egter wel moontlik dat ons met die verkeerde gesindheid of motief in ons hart kan vra en dan nie ontvang volgens wat ons begeer het nie.

Jak 4:3  Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.

Tog lees ek in die Bybel van mense soos Elia, Josua, Hiskia ens., wie  vir sekere dinge gebid het en hulle het dit ontvang. Een van die treffendste dele wat my onlangs weer opgeval het, is die deel waar Josua gevra het dat die son moet stilstaan, en dit het. Hy het letterlik die skepping op sy kop laat staan, net om sy doel te kon bereik om die vyand te verslaan.

Jos 10:12  Toe het Josua met die HERE gespreek, op die dag dat die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ajalon!
Jos 10:13  Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent ‘n volle dag.

Ons lees van Elia wat gebid het dat dit nie moet reën vir drie en 'n half jaar nie en toe later weer bid op Karmel... en dit het begin reën. Op 'n ander geleentheid vra hy twee keer vuur uit die hemel uit en dit verbrand elke keer die koning se soldate wat gestuur is om hom te kom gevange neem.

Tog sê die Bybel duidelik dat hy 'n mens was net soos ons!

Só wat het hierdie manne gehad of geweet wat ons in vandag se tye die kol laat mis?


Ook lees ons dat Jesus sê dat alles wat ons in Sy Naam vra, sal ons ontvang.

Joh 14:13  En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.
Joh 14:14  As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.

Joh 15:16  Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Soos ek deur hierdie gedeeltes in die Bybel lees, is ek oortuig dat al hierdie mense 'n ware en opregte verhouding met die lewende God gehad het en dat hulle Hom nie beperk het in dit wat hulle wou gehad het nie. Dikwels is ons geneig om te “klein” te vra en sit ons God in die beperkinge van ons eie denke se boksies. Tog sê die Bybel dat niks by God onmoontlik sal wees nie!

Luk 1:37  Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

Ek weet ook dat God geen aannemer van die persoon is nie en dat wat Hy vir hulle gedoen het, Hy ook in gelyke dele vir my sal doen!

Hand 10:34  En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie,

Kom ons laat God God wees wanneer ons tot Hom nader in gebed en kom ons maak seker dat ons werklik 'n diep en intieme verhouding met Hom het, sodat ons ook kan glo dat ons sal ontvang wat ons
VOLGENS SY WIL vra.


GEBED:

"Vader ek bely dat ek U baie kere beperk in die dinge wat ek in gebed van U vra...vergewe my daarvoor. Help my om werklik 'n intieme verhouding met U te hê en om U toe te laat om volgens U wil te gee wat ek ookal nodig mag hê...amen!"


Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...