Friday 27 September 2019

Almal het einas



Hoé maklik is dit nie om iemand anders te oordeel oor sy of haar optrede of verkeerde keuses nie, terwyl onsself met sóveel dinge in ons eie lewens sukkel!

Die realiteit is dat almal einas het en dat dit baie keer die wortel is van die kwaad in mense se lewens of wat hul optrede bepaal in sekere situasies.

Jesus waarsku ons egter baie pertinent hieroor:

Mat 7:3  En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?
Mat 7:4  Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk!
Mat 7:5  Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.

As ons dan nou kinders is van die lewende Jesus, hoekom is daar só min liefde in ons teenoor ons naaste? Is dit miskien om ons eie seer te verberg?

Tydens beradingsessies, kom Heilige Gees en Hy openbaar hierdie einas en laat mense ook verstaan hoé 'n groot impak dit op hul lewens het. Wat kinders van die Here egter moet besef, is dat God ons nie veroordeel vir ons optrede as gevolg van hiérdie dinge nie.


Jesus gee ons dan ook die perfekte voorbeeld in die hantering daarvan in liefde:

Joh 8:10  En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?
Joh 8:11  En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.

Ons moet altyd onthou dat dieselfde genade wat ons ontvang, is ook vir die ander persoon en moet ons baie waak dat ons nie te vinnig 'n oordeel vél nie.

Mat 7:1  Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.
Mat 7:2  Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

Ek wil dit sommer ook duidelik stel dat genade nie 'n “get out of jail free”- kaartjie is nie. Mens kan dit nie gebruik as 'n verskoning vir sonde nie.

Laat ons dus ophou om mense te oordeel terwyl ons nie hul einas ken nie en veral ook nie as jy nog nie in hulle skoene gestaan het nie!


GEBED:

"Vader, baie dankie vir U genade aan my bewys...help my dat ek dieselfde aan ander sal gee deur hul lief te hê net soos wat ek myself liefhet...in Jesus se Naam, amen!"


Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...