Thursday 20 June 2019

Jou woorde....


Min mense besef wat die krag is in jou woorde en omdat woorde die wyse is waarmee die mensdom met mekaar kommunikeer, is die mens nie ingestel om te let op jou woorde nie. Die Bybel is egter baie duidelik dat daar dood en lewe in mens se woorde is, nogtans kies ons om maar die woorde net oor ons lippe te laat rol en baie keer is dit vir ons tot verderf instede van lewe.

Spr 18:20  Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.
Spr 18:21  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.

Wat baie mense egter nie besef nie, is dat mens kan opbou en afbreek met jou woorde en dat woorde baie dieper letsels laat as wat 'n steekwond kan doen. Deur jou woorde kan jy stig en deur jou woorde kan jy mense wegdryf van jou af en selfs van Christus af.

Kol 4:6  Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.

Baie keer wil ons só maklik iemand reghelp met die Bybelse dinge en dan dink ons nie altyd daaraan dat daardie persoon nie dinge verstaan soos wat ek doen nie en somtyds is daardie persoon nog besig om sy voete in die geloof te vind, dan kom ek met my hoogmoedige aanmerkings of kommentaar en doen dan skade aan die koninkryk, omdat dit die ander persoon wegdryf van Christus af.

Dit is beter om te wag op die leiding van die Heilige Gees oor wanneer om wat te sê, as om net soos 'n haelgeweer af te gaan en 'n gat te skiet in iemand anders se wandel in Christus. Baie keer maak dit dat daardie persoon só minderwaardig voel omdat hy nie kan verstaan soos jy dit doen nie en dan besluit hy om liewer maar handdoek in te gooi en weg te draai. Baie keer is dit ook die hoogmoed wat stink in sy neusgate en dat hy dan besluit om liewer weg te stap van Christenskap af.

Baie keer moet ons maar soos Paulus liewers bid en vra vir 'n deur om geopen te word, sodat ons op die regte tyd sal spreek en dat ons woorde met sout besprinkel mag wees, sodat dit nie 'n swak smaak agter los nie.

Kol 4:3  en bid tegelykertyd ook vir ons, dat God vir ons die deur van die woord mag open om te spreek van die verborgenheid van Christus, waarvoor ek ook in boeie is,
Kol 4:4  dat ek dit openbaar kan maak soos ek dit behoort te spreek.


GEBED: 
Vader, ek bely dat ek baie keer deur my woorde al mense van U af weggestoot het en ook aanstoot gegee het deur hoogmoedige woorde...vergewe my asseblief en help my dat ek ook verborgenhede van Christus sal openbaar maak soos ek dit behoort te spreek en ook wanneer ek dit moet spreek...amen!

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...