Wednesday 12 June 2019

Nader tot God!



Jakobus 4:8: "Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!"

Baie mense is gou om te sê dat dit vir hulle voel of God "ver" van hulle af is. Maar gewoonlik is die rede bloot omdat hulle nie doen wat in hierdie teksvers staan nie, naamlik dat hulle hulle EERSTE tot God moet nader, en dan sal Hy tot hulle nader.

God wil hê ek en jy moet die eerste stap neem om na Hom toe te kom, Hy doen dit nie namens ons nie. Net soos wat ons lees in die verhaal van die verlore seun, was dit die verlore seun wat tot homself moes kom en moes terugkeer na sy vader se huis. Die vader het hom nie uit die varkhok kom haal nie, hy moes self die besluit neem, en toe die besluit volvoer deur op te staan en na sy vader se huis terug te stap.

En dan lees ons dat die vader hom van ver af sien kom het, en toe na hom toe gehardloop het om hom te  verwelkom. Op dieselfde wyse wag ons Hemelse Vader dat ons ook tot onsself sal kom en sal terugkeer na Hom, maar ONS moet die eerste stap neem.


Die probleem is dat die meeste mense nie bereid is om daardie stap te neem nie, want hulle is nie bereid om te doen wat die tweede deel van die teksvers leer nie, naamlik om hulle hande te reinig, en hulle harte te suiwer nie.

Met ander woorde, om op te hou om die verkeerde dinge te DOEN, en verkeerde dinge in hulle harte toe te laat.

Die punt is egter, as ons eerste tot God nader, sal Hy tot ons nader, en ons dan Sy krag gee om dit wat ons vasbind in die verkeerde dinge in ons lewens, te kan oorwin.

Geliefde van God, moenie hierdie week verder weghardloop van God af nie. Nee, nader tot Hom, gaan na Hom toe met jou probleme, jou sondes, jou swakhede, en Hy sal tot jou nader en jou help om in oorwinning te kom oor al daardie dinge in jou lewe - wat dit ookal mag wees.


GEBED: 

"Vader, hierdie week wil ek tot U nader met al my probleme, my sondes en my swakhede. Gee my asseblief U krag om in my alledaagse bestaan tot U te nader, om my hande te reinig en my hart te suiwer en nie meer dubbelhartig te wees nie. En help my asseblief verder om in U krag in oorwinning te lewe oor die aanslae wat teen my kom en my wil oortuig om eerder weg te hardloop van U af. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...