Tuesday 26 February 2019

Uitverkore geslag



1Petrus 2:9: "Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig..."

Hierdie is 'n wonderlike belofte in die Woord om aan vas te hou. Wanneer ons kinders van God is, dan sien die Here jou en my op 'n spesiale manier. Watter spesiale manier?

Hy sien ons as 'n uitverkore geslag. Hy sien ons as 'n koninklike priesterdom. Hy sien ons as 'n heilige volk. Hy sien ons as Sy eiendom. Is dit nie wonderlik om te weet nie? As kind van God is JY uitverkore, JY is 'n koninklike priester, JY is heilig, JY is Sy eiendom.

En omdat Hy jou en my op daardie spesiale manier sien, het Hy ook baie spesifieke opdragte aan ons.

Wat is Sy opdrag aan ons in hierdie teksvers hierdie week?

Om die deugde te gaan verkondig van Hom wat ons vanuit die duisternis van die wêreld en van sonde geroep het, tot in Sy wonderbare lig! Met ander woorde om andere rondom ons te VERTEL van hierdie wonderlike God wat my en jou uit die duisternis van die wêreld geroep het en daar uitgetrek het, tot in Sy wonderbare lig!

Want as Hy dit vir jou en my kon doen, kan Hy dit ook doen vir elkeen van daardie ander mense wat ons hierdie week mee te doen mag kry, hetsy by die werk, of op die straat, of in ons sportbeoefening. Soek dus die kleinste geleentheid om iemand te vertel van die wonderlike Jesus Christus wat jou ook vrygemaak het van die duisternis en in Sy wonderlike lig ingetrek het.

Sodat hulle ook deel mag wees van daardie uitverkore geslag, daardie koninklike priesterdom, daardie heilige volk, daardie eiensomsvolk...


GEBED: 
"Vader, ek kom na U in die magtige Naam van Jesus Christus. Ek vra dat U my asseblief hierdie week sal help om daardie persone raak te sien aan wie ek U deugde moet verkondig, juis sodat U hulle ook vanuit die duisternis kan trek tot in U wonderbare lig. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...