Tuesday 5 February 2019

Wandel deur die Gees



Galasiers 5:16: "Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie."

Hierdie is 'n baie belangrike les wat Paulus ons hier wil leer. As ons kan leer om op 'n daaglikse basis onder leiding van die Heilige Gees van God te wandel, dan sal ons nooit die begeerlikhede van die vlees, van die wêreld en van satan se versoekinge navolg of volbring nie.

Die probleem is dat ons oor die algemeen nooit geleer het om "in die Gees" te lewe of te wandel nie. En dit juis omdat ons nie weet van die geestedimensie waarvan die Bybel praat, óf hoe dit ons alledaagse lewens impakteer nie, beide na die positiewe of na die negatiewe kant toe nie.

Die belofte in hierdie teksvers is egter dat indien ons moeite doen om uit te vind hoe dit wel in ons lewens werk, en hoe om werklik in 'n intieme verhouding met die Heilige Gees te wandel, dan sal Hy ons op die regte paaie lei en sekermaak dat ons nooit die vlees se begeerlikhede sal navolg nie.


Ons lees baie duidelik in Romeine 8:14 die volgende:

"Want almal wat deur die Gees van God gelei word, die is kinders van God."

Kan jy sien waarom ons in die Gees sou WIL wandel? Want almal wat deur die Gees van God gelei word, kan aanspraak maak op die "titel" van kind van God! Onmiddellik is die implikasie immers dat indien ons NIE deur die Gees van God gelei word nie, ons nie kinders van God is nie.

Ongelukkig is daar baie mense wat nie deur die Gees van God gelei word nie, of want glad nie wandel in die Gees nie, wat die begeerlikhede van die vlees op 'n daaglikse basis navolg, maar wat steeds wil aanspraak maak daarop dat hulle kinders van God sou wees.

En dit is na húlle wat die wêreld kyk en sê: "Maar as dit 'n Christen is, dan wil ek nie 'n Christen wees nie!"

Kom ek en jy kies om hierdie week WERKLIK te wandel in die Gees en onder leiding van die Heilige Gees, sodat ons nie die begeerlikhede van die vlees sal volbring nie, maar belangriker nog, dat die mense rondom ons na ons sal kyk en sê: "Ek wil graag soos hy/sy wees, want ek kan sien Jesus is in hom/haar!"


GEBED: 


"Vader, ek kom na U in die magtige Naam van Jesus Christus. Ek vra dat U asseblief deur U Woord en deur U Heilige Gees my sal leer HOE om hierdie week en vir die res van my lewe werklik te wandel in die Gees, en onder leiding van U Heilige Gees, tot eer van U Naam en sodat U in my lewe verheerlik kan word. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...