Monday 18 February 2019

Sosiale Media en die Bybel


Ons almal hoor gereeld, en stem tog gewoonlik saam, dat sosiale media vandag ‘n baie baie groot impak op ons lewens het.

Ek wil sê ‘n goeie impak asook ‘n slegte impak, maar ek voel beslis hang die skaal baie swaarder aan die slegter kant daarvan.

Die Woord van God sê in Spreuke 18:21 “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”  Maar nou sê jy vir my, ek tik mos op sosiale media met my vingers, ek spreek dit tog nie met my mond nie?!

Ja wel, maar die Woord van God sê ook in Psalm 144:1 “Geloofd sy die Here, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers leer om oorlog te voer”.

So sommer direk uit die Bybel uit, verstaan ons dat God self ons leer om met ons vingers te kommunikeer en in vandag se tyd met sosiale media, word die Woord van God weereens ‘n ware, lewende woord want die "comments" wat deesdae op sosiale media geplaas word, kan niks anders as oorlogvoer geklasifiseer word nie!

Verbeel jouself hoe dit moes wees 1000 jaar gelede in oorlogstyd. Wanneer die manne oor mekaar gestaan het en mekaar gedreig het, gevloek het, bespot het, ens., net voor die geveg begin, was alle woorde nadat dit gespreek was, weg, verby en finaal.

Met sosiale media vandag wanneer ons oorlog voer, en ons vloek, bespot, verneder, laster, ens., is daar altyd bewyse wat agterbly. Of dit nou ‘n kopie foto van die skerm is, ‘n foto geneem, al word dit uitgevee, is die digitale kopie nooit weg nie. Dit bring nou weer ‘n nuwe duiwel uit die kas wat saam met die oorlogsvoering gepaard gaan in vandag se lewe, genaamd onvergifnis.

Mense hou baie makliker bewyse van enige iets en dit gaar op vir ammunisie, waar die Woord van God duidelik vir ons sê in Kolossense 3:13  “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”


En hoe het Jesus ons vergewe?

Onvoorwaarlik! En Hy dink nooit weer daaraan nie! So Jesus hou nie digitale kopies van al die onheil tekse wat gestuur word op sosiale media om dit teen ons eendag te hou nie, nee. As jy Hom aanvaar as jou enigste Redder en jou sondes bely, wat doen Hy?  Hy vergewe en vergeet!
Hoe gaan die ou gesegde … Jy moet dink voor jy doen! Ek vermaan julle broeders en susters om in vandag se tyd te Dink voordat jy tik! Want daar is geen terugkom daarvandaan nie.

Soos God se Woord sê in Filippense 4:8  “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” 

Doen dieselfde in vandag se tyd met jou oorlogs vingers. As enige iets wat jy op sosiale media wil plaas nie gelys in die bogenoemde teks vers nie, moet dit nie plaas nie!

Satan gebruik sosiale media vandag soos nog nooit tevore om mense teen mekaar op te hits, veral Christen teen Christen

‘n Waarskuwing wat ek wil uitspreek aan jou is dat God in sy Woord sê in Matthéűs 12:36 “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag”, en ek reken dat selfs die oorlog wat gevoer was met ons vingers, oor rekenskap gegee sal word voor God as ons nie gered is en ons sondes bely het nie.

Gebed:

Almagtige Here, ek bely dat ek wel in my lewe tog op ‘n stadium oorlog gevoer het met my vingers d.m.v. sosiale media en dat ek nie altyd die beste wense in gedagte gehad het daarmee nie.

Ek vra asseblief U vergifnis vir my deelname daaraan. Ek dank U, Vader, dat ek ook weet dat U Woord sê as ek dit in onkunde gedoen het, U die tye van onkunde oorsien en my vergewe.

Ek ontvang U vergifnis en dank U daarvoor in die Naam van Jesus Christus van Nasaret.

Amen.


Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...