Monday 1 October 2018

Jesus Christus ons Groot Hoë Priester



Hebreërs 4:14 – 16 “Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Jesus as ons Hoëpriester is een van die kosbare waarhede waardeur ons groei tot  volwassenheid en wat ons in intimiteit nader aan Hom trek. Wanneer ons die grootheid van Jesus in hierdie amp besef word ons standvastigheid versterk. Heb 4:14 “Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.” Belydenis is dit wat jy spreek en verklaar. Jesus was heeltemal suksesvol is Sy opdrag en missie van verlossing. Hy kom en sterf as offer vir ons sonde. Hy het opgestaan in oorwinning oor die sonde en die dood. Hy het opgevaar na die hemel en sit in die gesagsposisie van outoriteit, aan die regterhand van Vader. Omdat ons dít weet, het ons ‘n groter rede om standvastig te bly in ons belydenis van hoop in Hom.

Verder, ons Hoëpriester is nie verwyderd en onsimpatiek teenoor ons behoeftes en swakhede nie. Heb 4:15(a) “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie,” Die vyand het al sy versoekings tegnieke teen Jesus gebruik. Jesus het dit wat jy deurgaan ook deurgaan, dit waarmee jy versoek word is Hy mee versoek. Nog ‘n feit van groter belang en waarheid is dat Hy nooit ingegee en toegegee het nie. Heb 4:15(b) “maar sonder sonde.” So, Jesus verstaan nie net ons geveg nie, Hy gee ook die oorwinning.

Hierdeur het ons die reg om Vader te nader, deur ons Hoëpriester, sonder twyfel of vrees om die hulp te ontvang wat ons nodig het. Heb 4:16 “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” Ons God regeer die hemel en aarde vanaf ‘n troon van genade. Hierdie genade kan net verstaan word deur die wat onder Sy nuwe verbond van genade leef. Hierdie genade is genoeg om die wat tot Hom gaan te regverdig en te heilig, die wat in nederigheid op Hom vertrou. Die genade hier is nie vir die aanvanklike redding nie maar dit is tot die redding van die verlostes wanneer hulle van hulle tekortkominge bewus word. Ek en jy word genooi om nader te kom, Vader te nader op ‘n intieme wyse, deel te hê in Sy volheid ten spyte van ons tekortkominge.

“Here Jesus, my Hoëpriester, ek loof en eer U vir U grootheid. U is groot in verstaan, omgee, oorwinning en genade. Soos ek nader aan U kom verwag en aanvaar ek dat U genade genoeg is om in my tekorte te voorsien. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...