Monday 15 October 2018

Eet die Brood!


Joh 6:32  En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel.

Joh 6:33  Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.

Joh 6:34  Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood.

Joh 6:35  En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.

In hierdie deel lees ons dat die skare mense van Jesus 'n teken vra sodat hulle in Hom kon glo en herinner hulle Hom aan die manna wat hul voorvadders in die woestyn, uit die hemel ontvang het. Jesus herinner hulle daaraan dat die brood uit die hemel van God af gekom het en nie deur die hand van Moses nie.

Dan gaan Hy voort en maak hierdie stelling dat Hy die ware brood is wat volkome kan versadig en dat elkeen wat van Hom eet en in Hom glo, nie verlore sal gaan nie. Dit was natuurlik 'n vreeslike woord vir die mense om te aanvaar, aangesien die werklike betekenis daarvan vir hulle verborge was.

In Openbaring lees ons dat Jesus in werklikheid ook die lewende Woord van God is. Dit beteken dus dan dat as ons Jesus as brood moet eet, dat ons die Woord van God moet “eet” deur dit te bestudeer en te glo, elke dag van ons lewens!

Opb 19:11  Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.

Opb 19:12  En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.

Opb 19:13  En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.

Toe Jesus deur Satan in die woestyn versoek is en hy aan Jesus voorgestel het om brood van die klippe te maak omdat Hy honger was, het Jesus hom terug verwys na dit wat geskrywe was in Deut 8: 3...dat die mens nie net van brood sal lewe ne, maar van elke woord wat uit God se mond gaan. Dit was dus alreeds 'n heenwyser na Jesus Christus as die enigste Weg na die ewige lewe.

Deu 8:3  En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.

As ons dan na die wetenskaplike sy gaan kyk van wat met brood gebeur sodra dit in die mens se maag volkome verteer is, dan sien ons dat dit deur die hele liggaam versprei word en dat dit dan wetenskaplik onmoontlik is om dit te kan onderskei as weefsel geneem en ondersoek word.

Net só is die Woord van God veronderstel om só deel van ons hele lewenswandel te moet wees, dat ons ononderskeibaar van Christus sal wees!

In die boek van Spreuke lees ons dan ook dat as ons die Here só intiem ken en in verhouding met Hom lewe, sal dit ook vir ons genesing wees!


Spr 3:5  Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Spr 3:6  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Spr 3:7  Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad;

Spr 3:8  dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.


Liewe leser, "eet" jy al op hierdie wyse van die Brood van die Lewe?


Gebed:  Vader gee my asseblief 'n nuwe honger vir die ware Brood van die lewe en Heilige  Gees, bring my in 'n meer intieme verhouding met die Heilige en Almagtige God, Jesus Christus van Nasaret...Amen!


(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...