Monday 24 September 2018

My gebed slaan teen die plafon vas!


Ek is seker dat menige kind van God al gevoel het dat sy of haar gebed, nie verder as die plafon strek nie. In sulke gevalle raak mens dan ook soms mismoedig en het dan nie meer lus om te bid nie, want ons voel ons kry geen antwoorde of deurbrake in ons situasies nie.

Die vraag is of dit dan enigsins moontlik is dat my gebed teen die plafon kan vasslaan?

Kom ons ondersoek die Skrifte!

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof (in) van die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Rom 8:26  En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.

Rom 8:27  En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.

Op grond van hierdie twee verse, is dit alreeds duidelik dat dit onmoontlik is dat ek as wedergebore kind van God, teen die plafon kan vas bid!

Hoekom gebeur dit dan dat daar nie antwoorde kom op gebede wat met 'n opregte hart gebid word nie. Daar kan verskeie redes wees waarom gebede nie beantwoord word nie en sommige daarvan is, sonde en ongehoorsaamheid aan God se woord, of omdat dit gebede is vir dinge wat in die welluste van die vlees moet voorsien, of dit is bloot omdat daar bose magte is wie die antwoord op ons gebede verhinder.

Ons kry baie duidelike voorbeelde hiervan in die boek van Daniël in hoofstukke 9 en 10 toe die engel aan Daniël berig gebring het dat God reeds geantwoord het by die begin van Daniël se smekinge. In hoofstuk 10 lees ons dan ook dat die engel vir 21 dae verhinder is deur die vorse van Perse voordat hy verlos is en die antwoord aan Daniël kon bring.

Die Bybel is duidelik dat daar 'n stryd teen bose magte is wie daarop uit is om ons lewens te verderf.

Ef 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Kom ons kyk ook wat sê die Bybel oor gebed”

Mat 7:8  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.

Luk 11:9  En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Ps 91:15  Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.

Ps 50:15  en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.

Ps 5:2  Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.

Ps 5:3  In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag.

1Pet 4:7  En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

Bogenoemde verse is slegs 'n paar skrifgedeeltes wat daarop wys dat dit uiters belangrik is om te volhard in gebed. Toe Jesus in die tuin van Getsemané in 'n swaar stryd was oor die dinge wat Hy sou deurmaak wanneer Hy oorgelewer word aan die Romeine, het Hy net met nog meer inspanning gebid. Dit is dan ook vir ons tot voorbeeld dat ons nie moet moed verloor nie, maar net nog meer moet volhard in gebed.

Luk 22:43  En ‘n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.

Luk 22:44  En toe Hy in ‘n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.

Geliefdes, as daar dinge is wat tussen jou en God staan en wat ook daartoe mag bydra dat jou gebede verhinder word, kry dit uit die pad uit, sodat jou gebede nie verhinder word deur jou eie toedoen nie!

En manne, let asseblief noukeurig op die volgende vers en slaan ag daarop!!!

1Pet 3:7  Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.

GEBED:  Hemelse Vader, versterk ons asseblief soos U vir Jesus versterk het in die tuin van Getsemané en gee ons die krag om nie moedeloos te word nie, maar dat ons sal volhard in gebed...in Jesus se naam – amen!

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...