Monday 8 October 2018

Profete vir die nasies


(Jeremia 1:4,5): - “Die woord van die HERE het dan tot my gekom en gesê: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak. Toe het ek gesê: Ag, Here HERE, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk. Maar die HERE het vir my gesê: Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek.”

Het jy al die bogemelde teksverse mooi bestudeer? En het jy dit al vir jouself toegeëien? Want alhoewel mense kan argumenteer dat dit in die “konteks” eintlik op Jeremia van toepassing sou wees, het ek geen twyfel dat die Here dit ook vir JOU en MY sê nie, ongeag wat jou naam is.

Daar sien ons ‘n paar interessante dinge waarvan elkeen van ons beslis moet kennis neem. Eerstens sien ons dat God elkeen van ons geken het reeds van voor ons geboorte af al, en dat Hy ons aangestel het as profete vir die nasies. Hoekom? Want Sy opdrag in Mattheus 28:19 is immers dat ons moet gaan dissipels maak van al die nasies. Jou skeppingsdoel op hierdie aarde is dus nie om bloot maar net ‘n sekretaresse te wees nie, of ‘n dokter, of ‘n meganikus, of ‘n onderwyser, of ‘n ingenieur nie.

Nee, jou ware skeppingsdoel is om ‘n profeet te wees vir die nasies wat elke dag deur jou kantoor stap, of deur jou werkswinkel, of deur jou spreekkamer, of deur jou klaskamer. Om hulle aan te raak met die liefde van Jesus. Jy is dus nie sommer maar net hier op aarde om geen bydrae tot God se Koninkryk te maak en eendag te sterf nie. Maak nie saak hoe gering dit ookal mag wees wat jy doen nie, moenie dink jy is nie goed genoeg nie. God sê jy is goed genoeg vir HOM.

Verder lees ons daar dat die Here sê na wie ookal Hy ons stuur, moet ons gaan, en wat Hy ons ookal beveel, moet ons spreek. Mag ek en jy dus in hierdie nuwe week gehoorsaam wees aan ons skeppingsdoel en ook daardie opdragte van die Here.

Gebed:

“Vader, baie dankie dat U my waardig ag om my as profeet vir die nasies rondom my te gebruik. Gee my asseblief U krag om te gaan na wie U my ookal beveel om te gaan, en om te spreek met wie U my ookal beveel om te spreek. Ek bid dat U alleen verheerlik sal word in my lewe in hierdie week. In Jesus Naam bid ek dit. Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...