Monday 2 July 2018

Skep moed!


  Image result for heilige gees


“Nou dan, skep moed, Serubbábel (Karel, Pieter, Marie, Suzanne (of wat ookal jou naam mag wees), spreek die HERE, en skep moed, Josua, hoëpriester, seun van Jósadak, en skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die HERE, en werk! Want Ek is met julle, spreek die HERE van die leërskare, met betrekking tot die verbond wat Ek met julle gesluit het by julle uittog uit Egipteland, en my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees nie!” (Haggai 2:4,5)

Wanneer mense nie die Woord van die Here ken nie, en hulle die daaglikse nuus dophou met betrekking tot dinge wat in ons eie land of dwarsoor die wêreld gebeur, is dit baie maklik om ontmoedig te word. En daardie ontmoediging lei maklik daartoe dat mens selfs nie eens lus is om te werk, of konstant jou beste te lewer nie, want “wat is die nut” is baie mense se uitkyk. Vandag wil ek jou egter bemoedig met die bogemelde woorde van die Here. Haal gerus Serubbábel en Josua se name uit en plaas jou eie daarin, en weet dat die Here vandag steeds vir jóu óók sê: “skep moed, en werk!”

Want Sy Gees is vandag nog steeds bestendig in ons wat aan Hom behoort, se midde. Daarom hoef ons ook nie vir een oomblik bevrees te wees vir die dinge wat besig is om op ‘n daaglikse basis rondom ons te gebeur nie. Ons moet aangaan met ons lewens en werk asof ons vir die Here werk, en nie vir mense nie.

“En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.” (Kolossense 3:23,24)

“…en julle eer daarin te stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het,…” (1 Thessalonicense 4:11)

My liewe broer en suster, ek wil jou vir hierdie week bemoedig met die woorde in die bogemelde teksverse. Doen jou werk, of wát jy ookal die week gaan doen, soos vir die Here en nie vir mense nie, en Sy Gees sal met jou wees en jy hoef nie te vrees vir dit wat rondom jou gebeur nie.

Gebed:

“Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Vergewe my asseblief waar ek toegelaat het dat dit wat ek elke dag rondom my sien gebeur, om my te ontmoedig. Na aanleiding van U eie woorde, kies ek vandag om moed te skep en my werk te doen asof ek dit vir U doen en nie vir mense nie, want ek weet ek dien die Here Christus. Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...