Tuesday 10 July 2018

Rig jou oë op hoër grond!


Image result for Matthéüs 5:1 & 2

Matthéüs 5:1 & 2 “En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom; en Hy het sy mond geopen en hulle geleer …”

Skares vergader altyd om gebeure en persone wat nuuswaardig en interessant is. Dit, en selfs baie meer was Jesus, en só het Sy bediening al groter skares getrek. Ons lees in Matt 4:24 & 25 “En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak. En groot menigtes het Hom gevolg van Galiléa en Dekápolis en Jerusalem en Judéa en van oorkant die Jordaan af.” Maar Hy het geweet dat skares maar wisselvallig is. Toe Hy sien dat Sy bediening skares bymekaar trek – klim Hy ‘n berg.

Hierdie was ‘n beslissende besluit – boontoe! ‘n Doelbewuste maneuver om díe uit te sif wat maar net daar was vir ‘n maklike weg, gratis kos ens. En net soos Jesus verwag het, het die skare verdwyn. Jy sien, skares klim nie berge nie.

Wat volgende gebeur het is presies wat Jesus wou hê. Die wat aan Hom verbind was het saam met Hom geklim. Is jy een van hulle? Wanneer die skares verdwyn en die volg van Jesus nie meer populêr of maklik is nie, sal jý nog steeds aan Sy sy klim? Indien wel – sal Hy jou na die bergkruin neem.

Wat het Jesus hulle daar op die kruin van die berg geleer? Dáár gee Jesus die Bergpredikasie! Hy leer hulle oor die Saligsprekinge, die Sout van die aarde en die Lig van die wêreld, die Vervulling van die wet en die profete, Woede, Wellus, Egskeiding, Ede, Wraak, Liefde teenoor jou vyande, Gee aan behoeftiges, Gebed, Vas, Skatte in die hemel, die Gesonde oog, die Twee here, Kwelling oor die lewe, Oordeel, Vra en ontvang, die Goue reel, Valse Profete, die Outoriteit van Jesus. In kort, Hy leer die by Hom hoe om te leef as kind van God. Lees gerus Matt 5 tot 7. Daar was baie wat Hom gevolg het vir dit wat Hy vir hulle kon doen. Genesing, bevryding, voorsiening, ens. Min was egter bereid om ‘n daadwerklike  poging aan te wend om Sy leëringe en riglyne te ontvang.

Om Jesus werklik te volg gaan jou kos. Jy gaan ‘n prys moet betaal. Jy gaan ‘n doelbewuste poging moet insit. Lees gerus Lukas 14 verse 25 tot 33. In vers 28 lees ons “Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?”

Die Woord sê dat ons deelgenote aan ‘n hemelse roeping is. Heb 3:1  “Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus,” Dit is die hoër roeping in Christus. Fil 3:14  “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Dít is die roeping van God op ons lewens en wat middelmatigheid onaanvaarbaar maak. Ek kan en wil nie meer die skare volg nie. Die Engels vir die woord middelmatigheid is “mediocrity” en dit beteken letterlik ”halfpad teen ‘n berg op.”

Gaan dit werklik vir jou aanvaarbaar wees om Jesus net halfpad te volg? Ek het nie so gedink nie!

My vriend en vriendin, stel jou visier op hoë grond! Dan sal die Koninkryk, die Outoriteit van Jesus Christus jou volgende bestemming wees.

“Here Jesus, van vandag af sal ek nie meer skares volg nie, ek sal U volg. Ek sal saam met U die berg uitklim en U lering ontvang. Gee my asseblief U krag en vestig my oë op die hoë grond en roeping. Ek bereken die koste om U te volg en is bereid om die prys te betaal. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...