Monday 30 July 2018

Volgelinge....?


Image result for Lukas 6:22

“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.” (Johannes 15:18-20)

Baie Christene verstaan nie waarom mense by die werk of selfs in hulle families baie kere lelik is met hulle nie, veral nie as hulle bloot die regte ding probeer doen volgens die Bybel nie. Die antwoord lê opgesluit in die bogemelde woorde. Jesus het daar duidelik gesê dat omdat die wêreld Hom haat, sal hulle ons ook haat. Hy het ook gesê dat as hulle Hom vervolg het, sal hulle ons ook vervolg.

Nou is die vraag, het hulle Jesus vervolg? Ja, hulle het. Gaan hulle ons dus vervolg? Ja, hulle gaan. Maar wie het Jesus vervolg? Sy eie mense. So wie gaan ons vervolg? Ook ons eie mense. Dit moet ons dus nie verbaas as hierdie dinge met ons gebeur nie. Ons moet dan net leer om verder dieselfde te doen as wat Jesus gedoen het, deurdat Hy selfs aan die kruis gesê het: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Kom ons begin dieselfde doen.

Ek wil jou dus graag hierdie week bemoedig met die woorde van Jesus, dat as hierdie goed met jou gebeur, dit jou nie moet aftrek, negatief of moedeloos maak nie. Inteendeel, kyk wat het Hy ook vir ons gesê in Lukas 6:22,23:

“Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.”

Gebed:

“Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Ek vra Here, vergewe my waar ek bitter of opstandig geraak het as familie of werkskollegas my vervolg of spot oor my geloof in Jesus Christus. Ek kies vandag om hulle te vergewe en ek vra Vader, vergewe U hulle asseblief ook. Lei my in hierdie week om juis opgewonde te wees as so iets gebeur, omdat ek weet dit beteken my loon is groot in die hemel. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...