Tuesday 17 July 2018

Vrees nie!


Image result for 1Kron 28:20

Een van die grootste en sterkste wapens waarmee die vyand die hele mensdom aanval, is “vrees”. Dit is ook nie 'n nuwe taktiek nie en is dit iets wat ons al uit die Bybel se tyd kan opmerk. In ons land is daar op hierdie stadium baie dinge waaroor mense vrees en is daar ook baie kinders van die Here wat deur hierdie taktiek van die Satan, in slawerny geplaas word! Daar word gevrees oor die politieke situasie in ons land, die stygende lewenskostes, plaasaanvalle en veiligheid, stygende brandstofkostes, ontvoering van kinders ens., ens., ens.

Wat hartseer is om te merk, is dat baie kinders van die Here betrokke is by die verspreiding van hierdie “vrees” boodskappe op sosiale media...en dit terwyl ons veronderstel is om die waarheid te ken en met die werke en metodes van die vyand, bekend te wees.

Terwyl ek hierdie boodskap van die Here bepeins het, gee Hy my hierdie vers:

1Kron 28:20  En Dawid het aan sy seun Salomo gesê: Wees sterk en vol moed, en voer dit uit; vrees nie en wees nie verskrik nie, want die HERE God, my God, sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie, totdat jy al die dienswerk aan die huis van die HERE voltooi het.

God is getrou aan Sy beloftes in Sy Woord en alhoewel daar slegte dinge met goeie mense gebeur, is Hy altyd getrou dat ons nie bo ons kragte versoek sal word nie. Selfs in Dawid se tyd was daar ou Goliat wie vir 40 dae lank die hele Israel-weermag met vrees gebind het. Totdat Dawid op die toneel verskyn het en besluit het om op die Almagtige God te vertrou, want hy het die vorige geleenthede onthou toe die Here hom die krag gegee het om die leeu en die beer te verslaan.

Net só het ek en U getuienis van geleenthede waar die Here ons gehelp het en ook beskerm het teen gevare en moet ons onsself elke keer daaraan herinner wanneer die vrees by ons deur kom klop. Die Woord van die Here is baie duidelik oor God se beloftes en vind ons een daarvan in Jesaja:

Isa 54:17  Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.

Die vraag is net: wat kies jy om te glo en wat spreek jy met jou mond? Want wat jy sê, sal jy hê!

Spr 18:20  Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.

Spr 18:21  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.

Kom ons begin werklik anders te wees as die res van die mensdom wie geen hoop het nie, omdat hulle nie die lewende Jesus Christus ken nie. Kom ons wandel in die lig van Sy Woord en hou ons hart op Hom gerug, terwyl ons bewus is van die dinge rondom ons, maar sonder vrees sodat ons kan bid daaroor en op God vertrou vir die uitkoms!

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...