Monday 21 May 2018

Daardie beker moet jy drink

Image result for nagmaal

Mat 26:27  Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.

Tydens my stiltetyd een oggend met my onlangse besoek aan die besigheid in Upington, gee die Here my hierdie een vers om op te mediteer. Die deel wat vir my baie pertinent uitgestaan het van die begin af, is die vetgedrukte deel hierbó. Terwyl ek die vers sit en bepeins, begin die Heilige Gees vir my oopbreek dat hierdie nie 'n versoek was wat Jesus gerig het nie, maar dat dit 'n opdrag was!

Hy lei my toe ook verder na die skrifgedeelte in Matt 20 waar die moeder van twee van Sy dissipels kom vra het dat hulle aan Sy linker en regterkant mag sit in die lewe hierna. Jesus vra hulle toe of hulle die beker sal drink wat Hy moet drink (met verwysing na Sy lyding en verwerping) en hulle het “ja” geantwoord. Hy het toe bevestig dat hulle en ons vandag as Sy dissipels, verseker uit dieselfde beker sal drink, omdat die mense ons sal vervolg as gevolg van ons geloof In Jesus Christus.

Mat 20:22  Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan.

Mat 20:23  En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter— en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.

 Toe Hy dus met die instel van die verbondsmaal (nagmaal) die opdrag gee dat almal uit die beker moet drink, het Hy toe alreeds elkeen wie in Hom glo, opgeroep vir diens as dissipel en martelaar ter wille van Sy naam en ter wille van siele wat gered moet word. Dan gee Hy ook daardie opdrag na Sy opstanding, dat ons moet uitgaan en dissipels gaan maak en hulle alles moet leer wat Hy ons leer.

Mat 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Mat 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Die Gees lei my toe verder na die deel in Paulus se brief aan die Korinthiërs waar hy dit duidelik maak dat hulle die brief is wat in Christus deur die apostels geskryf is...bedoelende dat die gemeente daar die getuienis is van die werk wat Paulus-hulle daar gedoen het. Dit is toé dat die Gees my vra: “wat staan in jou brief geskryf?”...en ek het duidelik verstaan dat Hy bedoel:  watse getuienis  is daar in die hemel oor my diens aan Christus en watse getuienis is in mense se harte oor my? Dit het my op daardie stadium maar net stom gelaat!


2Kor 3:1  Begin ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe nodig aan julle of van julle?

2Kor 3:2  Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense;

2Kor 3:3  omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart.


My liewe leser van hierdie skrywe, kan ek jou maar op hierdie stadium met dieselfde vraag konfronteer?

WAT STAAN IN JOU BRIEF GESKRYWE?

In die eerste brief aan die gemeente in Korinte, verduidelik Paulus aan hulle die gebruik van die verbondsmaal soos hy dit van Jesus ontvang het. Hy skryf ook duidelik dat die gebruik daarvan ons elke keer moet herinner aan wat Jesus gedoen het, m.a.w. Dit herinner aan die verlossing deur Sy bloed en genesing deur Sy wonde, maar dit herinner ook dat Hy bereid was om te ly ter wille van elkeen wie in Hom sou glo! Dan sê hy ook baie duidelik in vers 28 dat elkeen wie dit gebruik moet homself beproef en ek glo na dese dat dit ook betrekking het op ons bereidwilligheid om die pad te stap wat ons Meester en Here getsap het!

1Kor 11:26  Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

1Kor 11:27  Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.

1Kor 11:28  Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.

Het dit nie dalk tyd geword dat elkeen van ons onsself beproef om te sien of ons nog bereidwillig is om as dissipel van Jesus Christus, te drink uit die beker waaruit Hy moes drink nie...en dit nie ter wille van onsself nie, maar ter wille van hulle wie nog verblind is deur godsdiens en hulle wie nog totaal verlore is?

GEBED: 

Vader, vergewe ons dat ons nie altyd bereid is om te drink uit die beker waaruit U moes drink nie. Kom versterk ons egter met U krag om getrou te wees in ons opdrag as dissipels van U en kom gee ons U hart vir siele wie nog verlore is...Amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys




No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...