Tuesday 1 May 2018

Bid aanhoudend!


Ek het al menige kere die kommentaar en prediking gehoor dat jy net nodig het om eenkeer tot God te bid oor 'n saak, omdat: “Hy nie doof is nie en jou die eerste keer gehoor het”. Tog lees ek en verstaan ek van my Bybel dat ons aanhoudend moet bid en vra...nie omdat God ons nie die eerste keer gehoor het nie, maar sodat ons geloof gebou kan word en ons kan leer om in afwagting te wag vir God se perfekte wil en antwoord en wil Hy ook hê dat ons Hom só moet petisie, volgens wat ek lees in die onderstaande Skrif:

Jes 62:6  o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie

Jes 62:7  en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!

Jesus het self die mense met die bergpredikasie geleer om aanhoudend te bid en nie moed op te gee nie, maar om te hoop op die goeie dinge uit Vader se hand. En volgens wat ek verstaan van die Grieks wat hier gebruik word, is dat die wat aanhoudend bid, klop en soek, sal ontvang.

Mat 7:7  Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Mat 7:8  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.

Mat 7:9  Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee;

Mat 7:10  en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee?

Mat 7:11  As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

Baie kere gee ons moed op oor 'n saak waarvoor ons bid nog voordat ons regtig begin het, omdat ons in ongeloof of kleingelowigheid bid of nie die geduld het om te wag op Vader se antwoord of uitkoms nie. Baie kere draai ons voor die deur van ons deurbraak om en verbeur dan dit wat God vir ons bestem het. Dikwels blameer ons die duiwel dat hy dinge by ons steel, maar dan is dit bloot ons ongeduld wat ons laat skade ly.

Jak 1:4  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.

Jak 1:5  En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.

Jak 1:6  Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

Jak 1:7  Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—

Jak 1:8  so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.

Jak 4:2  Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie.

Jak 4:3  Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.

Menige keer is die dinge waarvoor ons bid nie binne Vader se wil vir ons nie, omdat dit wêreldse goed is wat ons nie nodig het nie of wat vir ons 'n struikeling sal wees in ons verhouding met Vader. Wanneer ons egter bid vir die dinge wat werklik nodig is, dan SAL Vader op die regte tyd voorsien, want dit is Sy beloftes aan ons.

Mat 6:31  Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?

Mat 6:32  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.

Mat 6:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Mat 6:34  Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.

Dit is nie altyd maklik om te midde van jou omstandighede te fokus op God se beloftes nie, maar dit is juis dan des te meer belangrik om jou fokus na Hom te skuif en nie in jou  omstandighede vas te kyk nie. God is getrou aan Sy Woord  en Sy beloftes en Hy het nog nooit verander nie en Sy oor is gerig op die gebed van die regverdiges.

Spr 15:8  Die offer van die goddelose is vir die HERE ‘n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig.

Spr 15:29  Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.

2Kor 1:20  Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.

Moet dus nooit ophou bid of moed opgee nie, want daar is groot krag in gebed en God is altyd getrou! Moet nie ophou vertrou nie, want op die regte tyd SAL jy gehelp word!

Jak 5:16  Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag

Heb 4:16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

Gebed: Vader U weet dat dit nie altyd maklik is vir ons om geloof te behou en te vertrou op U as dinge moeilik raak nie, maar gee ons asseblief die krag om nie op te hou om in geloof te bid en te vertrou nie...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys




No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...