Wednesday 13 June 2018

Die Here Roep


Image result for Jeremiah 3:19


Jeremia 3:19 “Ék het wel gedink: o Hoe gaan Ek jou met seuns gelykstel en aan jou gee ‘n kosbare land, ‘n allersierlikste erfenis van die nasies! Ook het Ek gedink: Jy sal My noem: My Vader! en jy sal van My nie afvallig word nie.”

Hierdie is Vader se hart vir jou, Sy begeerte. Dat ek en jy nie van Hom afvallig sal word nie en Hom sal noem; My Vader! Die Bybel sê in Rom 8:15 “Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” ABBA beteken eintlik pappie of pappa. Dit wat ‘n klein kind sy of haar pappa noem en ook wie hy onvoorwaardelik glo en vertrou.

Ek sien ook hoe Vader ons wil gelykstel aan iemand. Efes 4:11 – 16 beskryf dit: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam—goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate—die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.”

Kyk na wat die Here sê deur die profeet Jeremia wat dit verhinder:

Jer 2:5 “So sê die HERE: Watter onreg het julle vaders in My gevind, dat hulle ver van My afgewyk en agter nietige afgode aan geloop het en self nietig geword het?” Is dit wat vir jou belangrik is werklik vir God belangrik of is ons besig om nietighede na te jaag?

Jer 2:7 & 8 “En Ek het julle gebring in ‘n land van tuine, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle inkom, het julle my land verontreinig en my erfenis ‘n gruwel gemaak. Die priesters het nie gesê: Waar is die HERE nie? En die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie; en die vorste het teen My oortree, en die profete het geprofeteer deur Baäl en agter dinge aan geloop wat geen voordeel bring nie.” Hoeveel kere het ons God gevra om te help of te voorsien en wanneer dit gebeur is ons te besig om terug te gaan na Hom en dankie te sê. Ek self was gevra om te help met ‘n biddag vir reen. Indien dit voor die dag reen sou dit ‘n dankdag wees. Daar was goeie belangstelling vir die biddag, MAAR toe reen dit. Op die dankdag was daar net 3 boere en ‘n paar ander mense! God het nie die volle  erkenning van Sy kinders gekry nie, baie was te besig.

Jer 2:11 – 13  “of ‘n nasie sy gode verruil—wat nie eers gode is nie. Maar my volk het sy heerlikheid verruil vir wat geen voordeel bring nie. Verbaas julle hieroor, o hemele, en huiwer, verstyf heeltemal van skrik, spreek die HERE. Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” God sê dat nie eers heiden nasies die rug op hulle gode draai nie. Tog draai Sy volk en kinders hulle rug op Hom, verlaat Sy lewende water om met waardelose houers voorsiening te probeer maak. God het dit reeds voorsien maar baie van ons weet beter.

Jer 2:21 “Nogtans het Ek jou geplant as ‘n edele wingerdstok, as heeltemal egte saad; maar hoe is jy vir My verander in wilde lote van ‘n vreemde wingerdstok!” Baie begin werklik suiwer voor God. Omdat ons egter nie die skrifte elke dag ondersoek nie, Hand 17:11 “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.” dwaal ons en ken ons nie die krag van God nie, Mar 12:24  “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Is dit nie daarom dat julle dwaal dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie?” Kom ons neem die besluit om die Woord van God daagliks te ondersoek sodat ons kan onderskei in Christus en nie meer dwaal nie.

Omdat ons nie die volle waarheid ken nie, nie die skrifte ondersoek nie, probeer ons soveel keer onsself regverdig, ook met God. Daarom vra en antwoord God sy vraag in Jer 2:29 “Waarom twis julle met My? Julle almal het teen My oortree, spreek die HERE.” Ons twis soveel keer met God omdat ons besig is met opinies en nie waarheid nie. Omdat opinies ons besoedel trek dit ons ook weg van ons ware identiteit. Dit steel wie en wat ek is. Kyk na Jer 2:32 “Kan ‘n jonkvrou haar versiersel vergeet, ‘n bruid haar pronkgordel? Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal.” Daar is geen bruid wat vergeet om haar versierde bruidsrok op haar troudag aan te trek nie. Maar tog vergeet ons ons bruidegom Jesus, om Sy wil uit te leef.

 Uit genade roep die Here en ek en jy het die keuse om te luister en te doen, of nie. Luister na Sy roep en moet nie jou hart verhard nie, Heb 4:7 “…Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.”

Jer 3:7 “En Ek het gesê, nadat sy dit alles gedoen het: Keer na My terug! Maar sy het nie teruggekeer nie.”

Jer 3:14 - 17 “Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit ‘n stad en twee uit ‘n geslag en sal julle in Sion bring. En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand.  En as julle vermenigvuldig en vrugbaar word in die land in dié dae, spreek die HERE, dan sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die HERE nie. Ook sal dit in die hart nie opkom nie, en hulle sal daaraan nie dink en dit nie soek nie, en dit sal nie weer gemaak word nie.  In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die HERE; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie.” Indien ek en jy kies om terug te keer na Hom sal God aan ons herders, versorgers, leermeesters gee na Sy hart. Ons sal begin wandel op die regte paaie en nie meer volgens eie planne nie. Kyk gerus weer na Jer 3:19 waarmee ons begin het.

Jer 3:22 “Keer terug, o afkerige kinders; Ek sal julle afkerighede genees. Hier is ons, ons kom na U toe, want U is die HERE onse God.”

GEBED:

“Here Jesus, ek wil vandag terugdraai na U toe. Ek erken dat ek gedwaal het en daardeur ongehoorsaam geword het, ek het geluister na opinies en nie na U Heilige Gees nie. Vergewe my asseblief en lei my deur die Heilige Gees op die pad terug tot by U. Ek sien met verwagting uit na die nuwe dinge wat U vir my beplan. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...