Wednesday 9 May 2018

As My volk....


Image result for 2 Kronieke 7:13

"As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kronieke 7:13,14)

Hierdie is twee baie bekende teksverse, wat alle Christen gelowiges al gehoor, of self gelees het. Maar net soos met so baie ander verse in die Bybel is die vraag: Neem ons werklik IN wat ons gelees het, HOOR ons en SIEN ons werklik wat daar staan?

Want in hierdie verse is daar VIER baie duidelike dinge wat ONS moet DOEN, vóórdat God ons land (of ons lewens) kan genees. En daardie vier dinge, is (1) dat ons ons moet verootmoedig, met ander woorde nederig moet raak, (2) ons moet bid, (3) ons moet God se aangesig soek, EN (4) ons moet ons BEKEER van ons verkeerde weë, want eers as ons aan al VIER daardie dinge voldoen, kan God ons land of ons eie lewens genees.

Dit help nie ons doen net een, twee of selfs drie van daardie dinge, en dan is ons ongelukkig as die Here nie vir ons genesing bring nie. Gelowiges is gou geneig om te sê: “Maar ek bid en ek soek die Here se aangesig!” En tog is hulle in baie gevalle nog vol van die “eie-ek”, vol trots en hoogmoed en nie werklik nederig nie, én hulle bekeer hulle ook nie van hulle verkeerde dade nie, hetsy of dit haat, onvergifnis, bitterheid, rassisme, of wat ookal is nie.

Dan moet ons nie wonder waarom ons nie deurbrake of genesing in ons lewens of in ons land kan ontvang nie.

Gebed:

“Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Vergewe my asseblief omdat ek nie altyd gehoorsaam is aan U Woord deur my nie te veroormoedig nie, of nie te bid en U aangesig te soek nie, en veral ook waar ek my nie altyd bekeer van my verkeerde weë nie. Ek vra dat U my U krag sal gee om dit van vandag af reg te kry om aan daardie vier voorwaardes in U Woord te voldoen, juis sodat U ook my lewe en ons land kan genees. In Jesus Naam. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys




No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...