Wednesday 23 August 2017

Gebed van 'n regverdige het groot krag!


Image result for Jak 5:16


Wanneer ons praat oor verdeeldheid, sal menige kind van God onmiddelik dink dat daar na die eenheid in die liggaam van Christus verwys word. Daar is egter 'n ander plek waar verdeeldheid 'n baie groot wapen in die arsenaal van die vyand is...en dit is binne ons eie huisgesinne! Menige kere as daar 'n argument of meningsverskil tussen die lede van die gesin plaasvind, is die partye maar baie traag om mekaar te wil vergewe en vryspreek...tenminste tot op die punt waar die “eie ek” eers weer loop lê het.

Min word dit egter besef dat hoé langer ons uitstel om te vergewe en vry te spreek, hoé meer steel, slag en verwoes die vyand in ons laer...deur onvrede, siektes en krankheid, finansies, ens. Terwyl die Bybel ons baie duidelik waarsku dat ons nie die son moet laat ondergaan op ons toorn nie. om sodoende dan nie die vyand 'n plek te gee in ons lewens nie!

Ef 4:26  Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie;
Ef 4:27  en gee aan die duiwel geen plek nie.

Ons almal weet en verstaan dat as daar verdeeldheid in ons laer is, dan is daar gewoonlik 'n groot klomp gemors en wynig vrede tussen die lede. Die waarheid is: dat as daar verdeeldheid is, dan is daar ook geen krag nie!

Jak 3:14  Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie.
Jak 3:15  Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels;
Jak 3:16  want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.

Kyk bietjie mooi waarteen waarsku Jakobus in hierdie deel: hy verwys na: “die selfsug in julle hart!” Die waarheid is: dat as jy nie bereid is om te vergewe en vry te spreek nie, dan is jy selfsugtig en verhef jy jouself bo Christus! Jakobus waarsku verder dat daar 'n geweldige wanorde sal wees in jou huis en ook menigte gemene dade! En wie van ons het dit nie al ervaar dat dit só gaan in ons huise nie, net omdat ons te hardkoppig is om “sorry” te sê?

Kol 3:13  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.

As ek aan getroude man of vrou sou vra of hulle werklike hulle gesinne liefhet, glo ek dat ek 'n baie defnitiewe en sekere “ja” antwoord sou kry. As ek egter sou vra of hulle mekaar elke keer onmiddelik (of ten minste voor die son sak) vryspreek en vergewe, dan glo ek sal die antwoord heelwaarskynlik anders klink in baie se gevalle. Dan is my volgende vraag: het ons dan werklik ons gesinne só lief soos ons beweer as ons dan bereid is om hulle vir die wolwe van Satan te gooi om te verslind?

Vergifnis is nie altyd maklik nie, maar dit bly steeds 'n keuse wat net jy kan maak. Die realiteit is, dat hoé vinniger jy kies om dit te doen, hoé vinniger kan jy die dolk uit Satan se hand vat!

Jak 5:16  Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Hieride genesing wat Jakobus van praat, is nie net die fisiese genesing aan jou liggaam nie, maar geld ook vir figuurlike genesing in o.a. jou verhoudings, ens. Dit is dus altyd tot jou voordeel om só vinnig as moontlik die keuse te maak om te vergeef en vry te spreek!

Gebed:

Here Jesus, ek bely vandag dat ek sóveel kere nou al myself bo U verhef het deur nie te wil vergeef en vry te spreek soos U my volkome vergeef het nie. Vader ek het teen U gesondig deurdat hierdie dade baie keer ook teen my geliefdes was waarmee U my geseën het en dat ek die Satan 'n wettige reg gegee het om ons lewens en liggame aan te val. Vergeef my nou asseblief soos ek ook kies om my geliefdes nou te vergeef en gee my die kag om elke keer die keuse te maak om te vergeef en vry te spreek en help dat die son nie sal ondergaan oor my toorn nie...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met die toestemming van Tiaan Gildenhuys




No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...