Hierdie is een van die areas wat ek glo, Vader redelik ernstig besig is om met Sy kinders te werk in die tye waarin ons lewe vandag. Nie almal verstaan wat die volheid is van die outoriteit wat ons het in dit wat Jesus vir ons gedoen het aan die kruis nie en baie van dié wie wel weet, benut dit nie tot volle potensiaal nie.
Om 'n behoorlike begrip te kry van hoé om in outoriteit te wandel, moet ons gaan kyk na hoe Jesus dit gedoen het, aangesien Hy volkome mens was net soos ons en ook aan dieselfde versoekings blootgestel was, as ons.
Heb 4:15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
In Matt 4 en Lukas 4 lees ons dan ook van Jesus se versoekinge deur die duiwel en sien ons dat Jesus elke keer die duiwel weerstaan het met God se woord. Hoéveel te meer moet ek en jy dit dan nie doen nie, want God se woord sal nooit verander nie en die Bybel is duidelik dat God geen aannemer van die persoon is nie! God se woord is lewendig en kragtig, maar as dit net in my en jou gedagtes is of op die blaaie van ons Bybel, dan beteken dit absoluut niks nie en dan is dit kragteloos vir ons.
Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.
Iewers in ons stryd teen die bose aanslag, moet ons die woord van God in ons mond kry (en as dit in die begin is, soveel te beter) en dit begin spreek en dan ook vasstaan daarop, totdat die deurbraak vir ons kom. Want van die begin van die skepping af, het alles tot stand gekom deur 'n woord wat gespreek was en God het dan ook vir ons daardie mag in ons tong gegee!
Spr 18:20 Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.
Spr 18:21 Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.
Ons lees ook in die Bybel dat ons gewaarsku word dat die duiwel listig is en altyd op die uitkyk waar hy kan steel, slag en verwoes en die lewe vir ons só onsmaaklik moontlik wil maak. Ons word dan ook duidelik vermaan om waaksaam te wees.
1Pe 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.
In Lukas 10 lees ons waar Jesus 70 dissipels aanstel en hulle uitstuur met die spesifieke opdrag om duiwels uit te dryf en siekes gesond te maak. Met hul terugkeer, was hulle só verheug oor al die dinge wat met hul gebeur het op hulle sending en doen hulle dan ook verslag met groot opgewondenheid. Dan maak Jesus die volgende stelling:
Luk 10:19 Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.
Met ander woorde, elke wedergebore, Geesvervulde kind van God het reeds hierdie mag ontvang en dit is nie iets wat jy eendag in die toekoms sal ontvang nie. Jesus het reeds die vyand aan die kruis oorwin en ons het nie nodig om dit te doen nie. Ons moet net weet en besef wat Jesus gedoen het en dit wat God in ons hand geplaas het, gebruik in die stryd teen die bose magte om ons.
Kol 2:13 En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het,
Kol 2:14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,
Kol 2:15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.
Al wat ons dan as kinders van God dus hoef te doen, is om ons wandel voor Christus skoon te hou en ons aan God te onderwerp deur weg te draai van die sonde af en 'n heilige lewe te lewe. Ons moet ook die duiwel weerstaan wanneer hy met sy aanvalle kom deur die woord van God te gebruik in plek van sy leuens. En dan natuurlik 'n wag voor ons monde te plaas, sodat ons nie negatief of dood spreek oor ons omstandighede nie.
Jak 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.
1Joh 5:18 Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie.
Wat ons ook moet onthou, is dat ons hierdie stryd net geestelik kan benader, omdat dit nie 'n vleeslike stryd is nie en Jak 4:7 is baie duidelik dat “jy” die vyand moet teenstaan! As jy dit in die vlees gaan benader, het jy reeds die stryd verloor en moet ons absoluut die Gees vertrou om ons hierin by te staan.
2Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;
2Kor 10:4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,
2Kor 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,
Sag 4:6 Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.
Een van die grootste beloftes wat ons het, is dat God getrou is en dat Hy absoluut getrou is aan Sy woord! Hy is ook geen aannemer van die persoon nie en daarom kan ek, op grond van wat Jesus gedoen het, met vrymoedigheid tot Hom nader.
Jes 55:11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.
Gebed: Here Jesus, baie dankie dat U reeds meer as 2000 jr gelede die vyand oorwin het deur U bloed aan die kruis en dat U terselfdertyd die skuldbriewe teen ons aan die kruis vasgenael het. Dankie dat daar nou vergifnis is vir ons talle oortredinge, omdat U bloed die perfekte offer was daarvoor. Vergeef ons ook nou dat ons die vyand sóveel plek gee in ons lewens, terwyl ons losgekoop is om aan U te behoort. Help ons en leer ons om te staan in die outoriteit wat ons reeds het in U naam en U woord...amen!
(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys
Dankie Belinda - Ŀ♡√Ɛ it!
ReplyDeleteBaie kragtig uiteen gesit.
Go Go Girl!!!!!
Ɠ♡D ΛĿMĪƓĤŦY ĪS ѠĪŦĤ Y♡Ʊ! ♡♡♡
....... Jσнαη