Monday 7 August 2017

Geen vuil woord!


Image result for cursing


“Laat daar GEEN vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” (Efesiërs 4:29)

Mense en selfs menige Christene is so gou geneig om "klein" vloekwoordjies goed te praat, of die mening te huldig dat die betrokke woord "nie so erg is nie". En daardeur neem hulle glad nie kennis van hierdie baie duidelike teksvers in die Woord nie. Want myns insiens beteken die woord "geen" nog altyd niks anders as "geen" nie. Nou wat is 'n "vuil woord" dan? Is dit noodwendig net vloekwoorde, of wat kan ook as "vuil woorde" uitgewys word? Die Griekse woord daar is: "sapros" wat ook beteken: "rotten, worthless (literally or morally), bad, corrupt" volgens Strong's Greek Dictionary. Dit beteken enige vrot of waardelose of slegte of korrupte woorde tel dus ook daaronder.

As ons dus ophou om ons sondes goed te praat of te probeer regverdig, gaan ons besef dit verwys ook na vuil grappe, skinder en waardelose gesprekke. Want niks van daardie tipe goed stig die mense wat daarna luister of gee genade aan die wat dit hoor nie. Inteendeel, alhoewel die mense rondom so 'n persoon wat vloek en skel, of vuil grappe vertel of skinder oor andere of sommer net waardelose goed uiter, kamtig sal saamlag of sommer net selfbewus sal giggel oor iets wat die persoon gesê het, weet hulle gees wat deur God geskape is diep binne dat dit nie reg is nie en dat dit nie so hoort nie.

Hoekom nie? Want God se Woord is duidelik dat sulke tipe gesprekke niemand stig nie en nie genade gee aan die wat dit hoor nie. En tog skuil sulke persone baie kere agter hierdie "masker" van vloekwoorde of vuil woorde of vuil grappe met 'n non-chalante: "EK gee nie om wat ander van MY dink nie, dis maar wie ek is, 'what you see is what you get'". Maar intussen weet sy eie gees (wat deur God geskape is) ook dat dit eintlik nie reg is nie, juis omdat die Heilige Gees almal van ons oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel, volgens Johannes 16:7,8: "Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster (Heilige Gees) nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel..."

As ons as kinders van die Here dus gehoorsaam wil lewe aan ons Vader se Woord, kom ons hou op om ons sondes te regverdig, en kom ons begin doen wat die Bybel sê, deur eerder woorde te uiter wat die mense rondom ons stig en wat genade gee aan die wat ons hoor. Kom ons bid almal elke dag eerder die woorde van Psalm 19:15: "Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!" Want jy sien, as ons woorde spreek en dinge in ons hart bedink wat vir God aanvaarbaar is, dan sal dit sonder enige twyfel ook dinge wees wat die mense rondom my stig en aan hulle die genade gee van God se Woord wat oor my lippe kom.

Wat moet my hart dan bedink? Die antwoord vind ons in Filippense 4:8: "Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit." En as ek daardie dinge bedink, wat gaan met my mond gebeur? Daardie antwoord vind ons in Lukas 6:45: "Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond."



Interessant, dit beteken dat dit wat uit daardie persoon se mond uitkom, 'n bewys is van dit wat in sy hart aangaan. As ek as kind van God dus die dinge van Filippense 4:8 bedink, sal presies dit oor my lippe stroom, en geen vuil, slegte of waardelose woorde nie. As ek my hart en my gedagtes daagliks vul met God en Sy Woord, is daar geen twyfel dat die woorde wat by my mond gaan uitkom woorde gaan wees wat die mense rondom my gaan stig en opbou nie. Liewe mens, wat kies JY om hierdie week met jou mond te doen?


Gebed:
“Vader vergewe my asseblief waar ek ENIGE vuil woorde oor my lippe laat gaan het. Leer my van nou af om in oorwinning daaroor te kom sodat die woorde van my mond en die oordenkinge van my hart vir U aanvaarbaar sal wees, elke dag van my lewe. Leer my ook deur U Heilige Gees dat my woorde net stigting sal gee aan diegene rondom my en dat dit genade sal gee aan diegene wat my hoor. In Jesus Naam. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...