Tuesday 20 June 2017

"PLAY IT AS IT LIES"


Image result for Golf player looking at the ball before hitting it


“US Golf Association Rule nr. 13: Ball played as it lies
The rule prohibits moving the lie, the area intended for the swing, the line of  play or the area in which the ball is to be dropped. In general the golf  ball should be played where it lands without any change to the overall situation”

Na aanleiding van ’n gesprek wat ek en ’n vriend gehad het en ook uit ervaring van my eie egskeiding en die pad van herstel daarna, het die volgende Woord by my gekom….


Nou voordat ek verder gaan, wil ek dit net eers duidelik maak, dat my kennis van golf net genoeg is om ’n gevaar vir myself en ander in te hou, só ek gee my nie uit as ’n “pro” op die gebied nie, maar is dit slegs ter illustrasie van dit wat die Here in my gees gelê het.



Só dikwels neem ons besluite of doen ons dinge wat reuse, traumatiese ervarings tot gevolg het vir ons huwelike, kinders, vriende, loopbane, ens. Agterna is ons bitter spyt en wens dan só dat dit nie gebeur het nie of dat jy kan teruggaan en dit gaan regmaak. Sommige tye is dit moontlik en ander kere nie! Die lewe gaan egter voort en kan ons nie bly stilstaan by hierdie daad of gebeurlikheid nie en dan moet ons deel met die omstandighede net soos dit is. Dit is dan hier waar die bogenoemde golf-term te pas kom.


Moses het ook op ’n stadium in sy lewe gekom waar hy moes vlug nadat hy iemand doodgeslaan het in Egipte en toe die Here met hom spreek uit die brandende bos, was hy vol verskonings oor hoekom hy nie die Here se opdrag kon uitvoer nie. Die Here het egter ’n ander plan met sy lewe gehad en net só met elke een van ons vandag. Die Here vra vir Moses wat hy in sy hand het en leer hom om dit te gebruik.


Eks 4:2  Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: ‘n Staf.

Jy sien, net soos in die geval van Moses se sonde, kyk die Here nie vas in ons sonde nie, maar weet Hy wat Hy vir ons beplan het.


Jer 29:11  Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.


Dit is egter ons en ander mense wat nie die son wil sien skyn oor ander nie, wat vashou aan die sondige daad of dan verlede. Heel dikwels is dit die partye wat betrokke is en wat die “seerste” gekry het, wat die moeilikste laat los. Dit is te verstane, aangesien daar ’n emosionele sy aan elke mens is (die sielsdimensie) wat afgeknou word en wat tyd nodig het om te herstel. Die Bybel is egter baie duidelik dat ons nie moet vashou aan die verlede nie, omdat Vader weet dat dit die vyand se manier is om ons te bind en te verhoed om uit te kom by wat Vader vir ons bestem het.


Jes 43:18  Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.


Die Woord is dan ook duidelik uit Jer. 29: 11 hierbo, dat Jesus vir ons ’n hoopvolle toekoms beplan vol van Sy vrede. Sy vrede is nie die tipe kunsmatige vrede wat die wêreld vir ons voorhou nie, maar Sy vrede is’n innerlike vrede wat alle verstand te bowe gaan m.a.w. dit is nie iets wat ’n mens sou kon verklaar nie. Die wêreld se vrede is baie keer die van onderdruk, ignoreer en ontkenning en wanneer jy dit begin doen, dan is jy soos ’n wond wat binne-toe bloei en nie uitbloei dat al die gif kan uitkom, sodat herstel kan plaasvind, nie.



Joh 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.


As jy hierdie vrede gevind het, sal jy nie meer die toekoms vrees nie en sal die verlede ook nie meer saak maak nie. Dit is op daardie punt wat jy dan die seer van die verlede agter jou sal kan sit. Let wel, ek sê nie dat die verlede dan uitgewis sal wees asof niks gebeur het nie!…néé!, ons besluite en keuses het gevolge, maar dit sal dan nie meer soos ’n swaar las op ons skouers rus nie, omdat ons dit vir Jesus gegee het. Téreg sê die Woord dan ook dat ons ons bekommernisse op Jesus moet werp! En om iets weg te werp van jou af, beteken om dit weg te slinger!

1Pet 5:6  Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.
1Pet 5:7  Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

So is ons dan ook tans hier in die Suid-Kaap, in 'n situasie waar verwoestende brande baie groot skade aangerig het aan die natuur en menige huise en geboue is totaal vernietig. Daar is baie mense wat absoluut verslae en moedeloos is en sommige dalk sonder hoop. Meeste mense het alles verloor en ander het dalk 'n neseiertjie wat die toekoms nie só donker laat lyk nie. Hoé dit ookal sy, dít wat gebeur het, kan nie omgekeer word nie en moet ons die toekoms in die oë kyk met wat ons voorhande het. Om verbitterd te wees, aantuigings rond te slinger en vals gerugte te versprei, gaan niks verander nie en dalk net tot gevolg hê dat mense met onvergewinsgesindheid rondloop.

Daar was absoluut geen aanneming van die persoon met hierdie verwoestende ramp nie...ryk of arm, wit, bruin of swart...almal het deurgeloop! Tog is daar menige getuienisse wat gelewer word oor kinders van die Here wat nie deur vrees verlam was nie, maar op hul knieë gegaan het en gebid het en hul huise het ongedeerd daarvan afgekom. Die waarheid is dat God getrou is aan Sy woord en dat Hy altyd hoor as ons Hom aanroep en ook belowe dat dinge ten goede sal meewerk.

Rom 8:26  En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.
Rom 8:27  En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.
Rom 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Dit is die troos wat ons het, dat as ons op 'n punt is waar ons só plat geslaan is deur die vyand dat ons nie eers kan bid nie, dan tree die Gees vir ons in en bring die seer in ons harte , voor God se troon. Vader belowe dan om ons te vertroos en te help om weer op te staan, sodat ons die toekoms in die oë kan kyk. Ons het dus 'n keuse om te bly vaskyk in dit wat gebeur het, of om ons Vader se hand te vat en toe te laat dat Hy ons vorentoe lei.

GEBED: Pappa God, U ken ons diepste seer en weet dat dit vir ons moeilik is om die dinge van die verlede te vergeet, omdat dit só seer gemaak het. Tog is U die God wie ons genees as ons U toelaat en daarom vra ek dat U sal kom en ons harte ondersoek, sodat alles aan die lig kan kom wat nog in duisternis gehou word. Kom genees dan ook asseblief daardie wonde in Jesus naam. Vader en net so vra ek ook dat U sal hoop gee vir hulle wat in die Suid-Kaap deur hierdie verwoesting platgeslaan is. Hef weer swak hande op en maak hulle sterk en versterk ook weer verlamde knieë, sodat mense weer hul hoop op U sal plaas vir die pad vorentoe...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...