Thursday 3 November 2016

Die Advokaat en die Regter


Image result for picture of advocate and judge talking in court



Ek was vir tien jaar van my lewe ‘n prokureur van beroep. En alhoewel ek reeds sestien jaar lank nie meer as prokureur praktiseer nie, en reeds veertien jaar voltyds in die bediening is, is die Here van tyd tot tyd steeds geneig om in “regsterme” met my te praat sodat ek sekere begrippe in Sy Woord net beter kan verstaan. Ek is net soms vieserig vir myself omdat ek nie destyds as prokureur self hierdie waarhede in die Woord raakgesien het nie, want ek was so besig om my eie agenda na te volg dat ek nie veel ag geslaan het op die waarhede van die Woord nie.

Ek het persoonlik nodig gehad om alles te verloor wat ek gehad het, voordat ek my hand na die Here uitgestrek het en gevra het om hulp. Maar jy hoef nie ook eers alles te verloor voordat jy tot Hom uitroep nie. Neem sommer nou alreeds kennis van die volgende waarheid, en begin dit beoefen.

In die tyd toe ek prokureur was, en iemand een of ander probleem gehad het met iemand anders, of indien hulle van iets aangekla was deur die staatsaanklaer, sou hulle my kom sien het en gevra het om hulle te help. Ek sou dan hulle probleem na ‘n advokaat neem, en die advokaat sou die betrokke saak aan die regter gaan voorlê, en indien die persoon ‘n sterk saak gehad het, sou die regter uitspraak in sy guns gegee het. Indien hy nie ‘n sterk saak gehad het nie, sou die regter die saak afwys.

Nou is dit interessant om te let dat die Bybel ons ook leer dat daar ‘n Groot Advokaat is, en dat daar ook ‘n Groot en Regverdige Regter is. Wie is dit? Jesus Christus, en God die Vader! Kom ons kyk daarna.

“Want die HERE (YHVH) is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons Koning: Hy sal ons verlos.”
(Jesaja 33:22)


“En Hy self sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke vonnis met reg.”
(Psalm 9:9)


“My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak (Grieks – parakletos = advokaat) by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”
(1 Johannes 2:1,2)



Let mooi op dat Jesus ons Advokaat is wat vir ons voorspraak doen by die Vader, wat op Sy beurt ‘n REGVERDIGE Regter is. En omdat Jesus ‘n versoening vir ons sondes is, maak dit nie saak hoe SWAK ons saak is nie, Hy sal die saak vir ons wen teen die aanklaer (satan), mits ons net bereid is om NA Hom toe te hardloop.

Want ironies genoeg is die tendens eerder deesdae dat as mense probleme het in hulle persoonlike lewens, hulle juis WEGHARDLOOP van die Groot Advokaat en van die Regverdige Regter af. En dan hardloop hulle reguit in die arms van die “aanklaer” in. Is dit nie tyd om weer te leer om NA ons Groot Advokaat en Regter toe te hardloop om die REGTE hulp op die REGTE tyd te ontvang nie? Ongeag hoe swak ons “saak” is nie?

Kom ons hou op luister na die intimidasie en leuens van die “aanklaer van die broeders” (satan) en ons hardloop in hierdie week met VRYMOEDIGHEID NA ons Groot Advokaat toe.

Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

(tiaan gildenhuys – tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...