Wednesday 16 November 2016

Die wapens van ons stryd


Image result for person reading bible



DIE WAPENS VAN ONS STRYD


Of ons dit nou wil weet of nie, ons as kinders van die Here is in ‘n stryd met die bose gewikkel!! Baie mense egter, wat bely dat hulle Christene is, verstaan nie die stryd nie en is ook heeltemal so tevrede met hul “comfort zone”, dat hulle nooit toetree tot die stryd nie.

Ef 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Die oomblik wanneer jy egter van die bose praat, dan spring sommige “Christene” se hare regop en sê baie vinnig vir jou: “los die duiwel uit, dan sal hy jou uitlos”. Nou mense hierdie deel kry ek nie in die Bybel nie, maar wel die dele wat ons oproep om hom teen te staan;

1Pet 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.
1Pet 5:9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.

Jak 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Ef 4:26  Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie;
Ef 4:27  en gee aan die duiwel geen plek nie.

Dit is dus baie duidelik uit die Woord van God dat ons die duiwel moet teenstaan!!

“Nou hoe doen mens dit?”, sal outomaties die vraag wees wat opkom, so kom ons kyk wat sê die Bybel volgens bogenoemde tekse:

1)      Wees nugter en waaksaam
2)     Standvastig in die geloof
3)     Onderwerp jou aan God
4)     Gee aan die duiwel geen plek nie

Dit is baie duidelik dat ons aan die einde van tye leef soos deur die Bybel voorspel word en dat die aanslae van die vyand al hoé meer intens word op die kinders van die Here wat waarlik probeer om 'n heilige lewe te lewe vir ons Jesus Christus. Die enigste manier waarop ons sal staande bly in hierdie stryd teen die bose, is om te doen wat die Woord van God vir ons sê en in die besonder om te let op wat Jesus self gedoen het.

Mat 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Daarom is dit uiters belangrik dat ons die Woord van God ken en weet hoé om dit te gebruik teen die vyand...standvastig in die geloof natuurlik!! As die vyand dan nie eers vir Jesus uitgelos het nie, hoekom sal hy my en jou uitlos?

Liewe leser, jy kan self besluit of die duiwel vir jou 'n werklikheid is en of jy gaan staande bly in  die stryd, maar die Woord van God is die waarheid en bogenoemde verse is baie duidelik oor die geveg waarin ons is. En ja, Jesus het hom oorwin aan die kruis en aan ons die outoriteit gegee om satan te kan teenstaan, maar Hy gee ons ook die opdrag om dit wel te doen!

Mag Jesus Christus u ryklik seën hierdie week en Hy sal u die krag gee om in elke situasie te heers in Sy naam!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...