Wednesday 26 August 2015

Daar is Net Een Evangelie!


Image result for die bybel


Is jou volgende bestemming die poorte van die Hemel — of die verdoemenis van die hel? Die besluit is joune oor waarheen jy sal gaan!
          ‘n Amptelike opname in Amerika het bevind dat twee-derdes van alle Amerikaners “dink” dat hulle Hemel toe sal gaan, terwyl ‘n paar meen dat die hel vir seker hulle lotsbestemming sal wees.
          Die oor groter meerderheid van Amerikaners glo dat daar lewe na die dood is en dat die Hemel en die hel wel bestaan, aldus die Barna Navorsingsgroep van Oxford wat sedert 1984 deurentyd navorsing oor die Christelike geloof doen.
          “Ons is optimiste in ons denke,” het Robert Johnston, professor in Teologie aan die Fuller Teologiese Seminarie in Pasedena gesê.  
          “As mense werklik aan die bestaan van die hel glo, sal hulle sekerlik daar wil beland nie. Per definisie is hel ‘n verloëning van die goedheid van God.
          Altesame 76% van Amerikaners glo aan die bestaan van die Hemel. Daar is 71% wat glo aan die bestaan van die hel. Dit is 7% meer as 10 jaar gelede het toe 64% aan die hel geglo het.
          Altesame 46% van Amerikaners wat aan die bestaan van die Hemel glo, beskryf dit as ‘n “plek van ewigheidsbestaan in die teenwoordigheid van God, en 30% het gesê die Hemel is ‘n “plek van rus en waarheen siele na die dood gaan om beloon te word.”
          Veertien persent het gesê die Hemel is net ‘n “simboliek” en dat daar geen lewe na die dood is nie. Vyf persent het gesê hulle is onseker.
          Die navorsing het twee gewilde perspektiewe oor die hel opgelewer. Altesame 39% van diegene wat aan die bestaan van die hel glo, het gesê “dit is ‘n stadium van ewige verwydering vanaf God se teenwoordigheid,” terwyl 32% gesê het “dis ‘n plek van kastyding en lyding waarheen siele na die dood heen gaan.”
          Dertien persent het gesê die hel is net ‘n “simboliek” van ‘n “onbekende gevolg na die dood.”
          Die peiling is gedoen op een duisend mense in elke Amerikaanse staat behalwe Hawai en Alaska. Drie persent van die monsters was bedorwe.
          “Miljoene Amerikaners vermeng verskeie godsdienstige menings om hulle
persoonlike geloofsoortuigings te skep,” sê David Kinneman, vise president van die Barna Navorsingsgroep.
          Hy het bygevoeg dat Amerikaners nie omgee om teensprake te vertroetel nie. Hulle geloofsoortuigings bestaan uit ‘n vermenging van slotsomme waartoe hulle weens TV-uitsending, rolprente en gesprekke met vriende.
          Hulle staan nie vas by een betrokke standpunt en volg dan die Bybel se riglyne en lering daaromtrent nie. Amerikaners sê: “Luister, ek kan waarskynlik vir myself ‘n eie filosofie bepaal wat net akkuraat mag wees as ‘n betrokke geloofsrigting aandui.”
          Verskil Suid-Afrika se 34 miljoen “Christene” veel hiervan? Sekerlik nie. Die bovermelde feite klink bekend onder ons eie mense. Vraag is: Is dit dan nie afgodediens wanneer mense hulle eie geloofsoortuigings “skep” nie?
          George Barna, voormalige predikant wat die navorsingsgroep gestig het, sê dat een uit elke 10 wedergebore Christene – hulle wat glo dat toegang tot die Hemel suiwer gegrond is op belydenis van sonde en geloof in Jesus Christus – ook in reïnkarnasie glo — iets wat die ware Christelike geloof skend en ontheilig.
          Onder die wedergeborenes het een uit elke drie gesê dit is moontlik om met die dooies kontak te maak. Die helfte glo mens kan jou verlossing bekom deur middel van goeie dade sonder om Christus as Saligmaker aan te neem.
          Baie wat hulself as ateïsties of agnosties beskryf het, het ‘n spul teensprake in hulle denke. So byvoorbeeld het die helfte van hulle gesê dat mense wel ‘n siel het en dat die Hemel en die hel bestaan en selfs dat daar lewe na die dood is.
          Een uit agt van hulle het gesê as mens Jesus as Saligmaker aanneem is daar ‘n moontlikheid dat lewe na die dood na bestaan.
         Die deurmekaarspul van ateïstiese en agnostiese etikette bied aan mens geen werklike insig oor hulle geloofsoortuigings nie.
          “Die gees van modernisme is eintlik ‘n beweging in die rigting van spiritualiteit, en nie weg daarvan nie,” het Johnston gesê, en bygevoeg: “Terwyl mense hulself met die modder van die lewe besmeer, klou elkeen tog aan ‘n spiritualisties behoudendheid vas.”
          Hierdie tendense loop ook wyd in Suid-Afrika. In sommige gevalle is dit predikante wat mense met allerlei onbybelse aannames in verskeie opportunistiese rigtings lei, terwyl Christene weer nie hulle lewens volgens die Bybel inrig nie.
          Bybels lê in die huise en stof opgaar terwyl diegene wat beweer dat hulle Christene is, die pad saam met klieks loop — mens kan darem nou nie anders as jou vriendekring  wees nie...
          God vereis dat ons Hom in Gees en in Waarheid moet dien en aanbid.
          Paulus skryf aan die Galasiërs: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig geword het... (Gal. 1:6). As mens nie God in Gees en Waarheid dien en aanbid nie, dan het jy inderdaad “afvallig” geword.
          En dan strofe 7: “Daar is geen ander Evangelie, behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die Evangelie van Jesus Christus wil verdraai.”
          In strofe 8 spreek Paulus ‘n oordeel uit op mense wat dit probeer doen wanneer hy sê: “Maar al sou ons of ‘n Engel uit die Hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!”
          Hoe sal mens dan nou maak om toegang tot die Hemel te verkry?
          “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
“want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” Rom. 10:9-10.

          Saam met die Wedergeboorte ontvang jy ‘n erfporsie:
“Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,
“waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle (juis!) die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”
Nou vereis die HERE dat jy die erfporsie (talente) moet gebruik, daarmee moet woeker:
“En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis,
“en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug,
“en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.
“Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie;

“want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.
“Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.
“Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die Ewige Koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. 2 Petrus 1:1-11.
Dit, liewe leser, is die Evangelie. Daar is geen ander Evangelie nie!
          “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
          “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.”Hebr 12:12-15 – Sjibbolet

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...