Sunday 2 August 2015

“HEAVEN IS SO REAL” / “DIE HEMEL IS ‘N WERKLIKHEID” - CHOO THOMAS


Image result for Book Heaven is so real - choo thomas


 Omdat ek gereeld navrae kry daaroor, deel ek graag hier met jou:

MY PERSOONLIKE PROBLEME MET DIE BOEK: “HEAVEN IS SO REAL” / “DIE HEMEL IS ‘N WERKLIKHEID” - CHOO THOMAS

“Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” (Mattheus 22:29)

In die lig van Skrifte wat ek vanuit die Bybel hieroor ontvang het, gaan ek net kortliks 'n paar dingetjies noem wat my pla in die bogemelde boek. Die leser van hierdie artikel van my, is welkom om hom- of haarself verder te gaan vergewis deur die inhoud van die boek verder met die Skrif te gaan vergelyk:

1.       Sy skree van VREES wanneer “Jesus” haar uit haar liggaam kom haal om saam met hom “hemel” toe te neem.

(“Daughter, I must show you some things” He stated as He extended His hand in my direction. Next, I felt the strange sensation of my body being lifted from bed. Not knowing what was happening, I began to SCREAM and flail my arms wildly.” (p.19) en: “As we took flight, my earthly body, lying on the bed, was screaming in PANIC.” (p.91)).

Die Bybel sê: “Want God het ons NIE ‘n gees van VREESagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Timotheus 1:7).

Ek het al baie ander boeke gelees van mense wat deur Jesus besoek was en wat in drome of visioene hemel toe geneem is, en NIE EEN van hulle het ooit geskree van vrees nie. Waar kom haar vrees dan vandaan?

Onthou die volgende woorde ook: “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.” (2 Korinthiërs 11:14) Was dit dan werklik die ware Jesus wat aan haar verskyn het, of die satan wat homself so kom “voordoen” het?

2.       Haar besoeke aan die hemel maak haar siek en maer.

 (“The strength of the Lord’s anointing on my life kept me from eating very much for periods of several days at a time. The sleep deprivation and lack of food caused me to feel weak and emaciated. In fact, I had already lost five pounds. I frequently felt nauseated, and I often experienced pain in my stomach and joints… For one and a half months the Lord had been waking me from my sleep in the early hours of the mornings to take me to heaven so He could prepare me for the work He had called me to do. I was tired, and my body was weak.” (p.66,72))

 Daarteenoor lees ek in die Bybel dat Moses na VEERTIG DAE dae in God se teenwoordigheid, SONDER KOS EN WATER, nie siek, moeg, of afgetakel was nie, maar dat selfs sy aangesig so geskyn het dat hy ‘n sluier oor sy gesig moes trek. “En toe Moses van die berg Sinai afdaal.. het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig blink omdat hy met Hom gespreek het nie.  En toe Aäron en al die kinders van Israel Moses sien, het die vel van sy gesig geblink! Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ‘n sluier oor sy gesig getrek.” (Eksodus 34:29-34)

3.       Sy sien geaborteerde babas in ‘n lelike stoorkamer  - in die “hemel”.

 (“After walking over the beautiful golden bridge, the Lord led me to a place where babies and infants – many of whom looked as if they had just been born – were kept. It was a huge room, like a warehouse, and WASN’T FANCY OR PRETTY….” These are babies of mothers who did not want them. I will keep their babies!” the Lord answered. “What are you going to do with them Lord? “If their mothers are saved, they can have their babies back.” (p.38))

 Sal die JESUS wat gesê het: “Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele” (Mattheus 19:14), sulke baba’s in ‘n LELIKE groot stoorplek aanhou? Sou Hy nie juis húlle dan in die MOOISTE gedeelte van Sy hemel koester en bewaar vir die tyd wat hulle aarde toe moet gaan nie?

4.       “Jesus” neem haar in die hemel op 'n bootjie op die “oseaan”.

 (“...I noticed a massive OCEAN...The edge of the SEA was filled with boats, large and small... He led me to one of the boats and we climbed in.” (p.104))

 Die Bybel sê: “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die SEE was daar NIE MEER NIE.” (Openbaring 21:1) As die see nie meer daar gaan wees nie, op watter “oseaan/see” het hy haar geneem?

 Vir die mense wat die argument gebruik dat alles in die boek Openbaring net geestelik of analogies gesien moet word en nie fisies nie, wil ek ook net graag verwys na die volgende woorde: “Want ons skryf aan julle niks anders as wat julle lees of ook verstaan nie, en ek hoop dat julle dit ook tot die einde toe sal verstaan…” (2 Korinthiërs 1:13) As die Bybel dus bepaal dat die “see” nie meer daar sal wees nie, verstaan ek dit in die lig van 2 Kor.1:13 om ook fisies te beteken dat die see nie meer daar sal wees nie!

5.       Hy vang vir haar 'n vis en hy BRAAI dit vir haar om te eet.

 (“He then assumed the role of a cook, right in front of me. He grilled the fish until both sides of it were brown” (p.97)).

 Die Bybel sê: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal GEEN DOOD meer wees nie…” (Openbaring 21:4) “GEEN dood” beteken tog immers niks ander as dat NIKS in die hemel sal doodgaan nie? Wat het dan van die arme vis geword wat “Jesus” vir haar gebraai het?

6.       Hy verskyn vir etlike jare na mekaar op Oukersaand (24 Desember) met sy “Christmas crown and Christmas gown” aan (p.163, p.183, p.232). Dan sê hy ook nogal vir haar: “Daughter, it is My birthday.” of: “Sweetheart, I am celebrating my birthday with you.”

 Enige ernstige Bybelstudent weet dat 25 Desember NIE Jesus se geboortedag is nie. Dit was al eeue voor Christus die dag waarop die fees van “Saturnalia”, die geboorte van die SONGOD, Mithras, deur die heidennasies gevier was. Die Bybel sê: “So sê die HERE: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie…” (Jeremia 10:2) Met ander woorde, MOENIE die gewoontes van die heidennasies aanleer nie!

Sal dieselfde God wat baie duidelik is dat ons geen ander gode voor Sy aangesig mag hê nie (Eksodus 20:3), en wat bepaal dat Hy 'n jaloerse God is en dat ons nie heidense gewoontes mag aanleer nie, skielik na eeue aan een enkele persoon kom verskyn en die eeue-oue HEIDENSE aanbiddingsdag probeer “regverdig”, probeer “aanvaarbaar maak” deur self op die dag voor “Saturnalia” met 'n “Christmas crown and Christmas gown” aan haar te verskyn en dit dan “My birthday” te noem? Is God dan inkonsekwent of teen Homself verdeeld?

7.       Hy neem haar na 'n vallei BUITE die hekke van die hemel wat heeltemal BRUIN is en waar almal met lang gesigte en met bruin klere aan, in daardie vallei rondloop (p.46). Wanneer sy hom vra wie hierdie mense is, sê hy: “They are disobedient Christians”.  Wanneer sy hom vra hoe lank gaan hulle in hierdie bruin vallei bly, sê hy: “Forever my daughter.”

Nêrens in die Bybel lees ek van die hemel, die hel, en nog 'n bruin vallei iewers tussenin wat in alle ewigheid gaan bestaan, en waar Christene in ewigheid gaan lewe nie. Waar is die teksvers?

8.       By 'n volgende geleentheid neem hy haar na 'n GRYS vallei wat tot aan die rand van die hel loop en waar mense met GRYS klere aan rondloop (p.57). Wanneer sy hom vra wie hierdie mense is, sê hy: “They are the sinful Christians”. Wanneer sy hom vra tot wanneer hulle in daardie grys vallei gaan bly, antwoord hy dat dit tot die Groot Oordeel sal wees en daarna word hulle in die hel gegooi.

Nêrens in die Bybel lees ek van die hemel, die hel, die bogenoemde bruin vallei tussenin en nog 'n verdere grys vallei waar sekere mense rondloop totdat hulle uiteindelik in die hel gegooi gaan word nie.

My vraag is of daar dan 'n verskil is tussen “sinful” (sondige) en “disobedient” (ongehoorsame) Christene? In die eerste plek sondig ons volgens 1 Johannes 1:8 tog nog ALMAL en is ons dan effektief ALMAL op pad na daardie bruin vallei tussen die hemel en die hel in alle ewigheid. In die tweede plek, sondige Christene is tog sonder twyfel ook ongehoorsame Christene en ongehoorsame Christene is tog sondige Christene? Want sonde is ongehoorsaamheid aan God, en ongehoorsaamheid aan God, is sonde. So, het enige mens dan enige kans om die hemel te sien, of gaan almal opeindig in daardie bruin, of grys valleie?

9.       Die boek leer dat die ware Sabbatdag op SONDAG is (p.224). Enige ernstige Bybelstudent weet dat die Sondag nog NOOIT die ware Sabbatdag was nie. SATERDAG is nog altyd die werklike Sabbatdag (Vrydagaand 18h00 tot Saterdagaand 18h00). Alle ortodokse Jode in Israel vier die Sabbatdag tot vandag toe op Saterdag en NIE op Sondag nie. Vanweë hulle kennis van die Hebreeuse Bybel en God se kinders se geskiedenis, weet hulle wat is die korrekte Sabbatdag.

Is God teen Homself verdeeld? Het God nog al die jare Sy eie verkose volk die Sabbatdag op die verkeerde dag laat vier? Of het die Christene sedert die Rooms Katolieke Kerk se ingryping nog al die jare vanweë gebrek aan kennis, die verkeerde dag gebruik? Is die God wat ons dien dan inkonsekwent? Is Hy teen Homself verdeeld? Die Bybel sê: “Want Ek, die HERE, het NIE verander NIE…” (Maleagi 3:6) en: “ELKE koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes…” (Mattheus 12:25)

10.     By geleenthede wat hy in haar kamer kuier, sit hy volgens die Engelse boek: “cross-legged” op die stoel in haar kamer. Hierdie is eeue lank al die bekende liggaamshouding van die “guru” (leermeester) wat die mense leer van oosterse misteries, van transedentale meditasie, ensomeer. Dit maak heeltemal  vir my sin gesien in die lig dat die skryfster van oorsprong 'n Koreaan is en dus gewortel is in die Oosterse manier van dinge doen. Dit was dus vir haar niks vreemds dat haar “leermeester” “Jesus” so op die stoel in haar kamer sou sit nie.

11.     Sy skryf dat sy ‘n vroulike engel ontmoet het.

 (“I met a female angel about six months ago”. (p.246))

God se engele in die Bybel is ALMAL manlik. Daar is geen aanduiding in die Bybel van vroue-engele nie, (397 verwysings na engele in die Bybel is almal manlik), terwyl vroulike engele daarteenoor in die okkultisme en Vrymesselary ‘n baie prominente simbool is.

En diegene wat Sagaria 5:9 as aanhaling wil gebruik, die vroue wat daar na verwys word, was nie engele nie, maar simbole van komende oordeel oor die volk van Israel. Hulle het vlerke gehad “soos ’n grootsprinkaanvoël / wings like a stork”. ‘n Grootsprinkaanvoël of “stork” het wit vlerke met ‘n SWART rand. God se engele het nie vlerke met swart rande nie.

12.     Die laaste probleem wat ek met die boek het, is dat dit die mense weer met ‘n verwagting laat om net te sit en wag en reg te maak vir die hemel eendag. Die boek verwar die “kingdom of God” en die “kingdom of heaven” met die hemel, terwyl dit inderdaad daaroor gaan dat ons reeds hier op aarde moet LEWE in God se OUTORITEIT in Sy Koninkryk, en wanneer ons sterf, sal ons saam met God in heerlikheid lewe in die hemel. Die hemel is inderdaad ’n werklikheid, maar die “kingdom” gaan oor OUTORITEIT en NIE oor hemel nie. Hierdie boek doen mee daaraan dat mense nie die “evangelie van die Koninkryk”, soos wat Jesus dit kom verkondig het (Mattheus 4:17 en Lukas 4:43), verstaan nie. Vir meer duidelikheid hieroor kan my DVD: “Koninkryk=Heerskappy”, of enige van dr. Myles Munroe se boeke rakende “Rediscovering the Kingdom” na gekyk word.

Hierdie is maar net 'n paar van die probleme wat ek persoonlik in my gees ondervind het toe ek die boek gelees het. En die teksvers wat by my opgekom het na die lees daarvan, was die volgende een: “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!” (Galasiërs 1:8,9)

Mag die ware Jesus Christus die waarheid rondom hierdie boek, al dan nie, self verder aan jou openbaar. Kom ons hou op om op dwaalweë geneem te word omdat ons nie die Skrifte ken nie.

Ek erken wel dat ek weet van getuienisse van mense wat hulle harte vir die Here gegee het nadat hulle hierdie boek gelees het. En daarvoor loof ek die Here! Maar as mense my vra hoe is dit dan moontlik dat ek al hierdie probleme met die boek kan hê, maar dit lei steeds mense na God toe, verwys ek hulle maar net na die volgende woorde van die Bybel: “Sommige preek Christus wel ook uit afguns en twis, maar ander ook uit welwillendheid: …Maar wat maak dit? In alle geval, op allerlei wyse, of dit onder ‘n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.” (Filippense 1:15-18) Hierdie teksverse wys my dus daarop dat God enigiets sal gebruik om mense na Hom toe te trek, al is dit selfs 'n boek wat nie suiwer waarhede verkondig oor sommige aspekte nie. Daar is immers die geykte ou gesegde: “God slaan 'n reguit hou met 'n krom stok!”

Satan, daarteenoor, sal hierdie boek graag wil gebruik om te verhoed dat mense uitvind wat is NOU EN HIER op aarde reeds hulle outoriteit in God se Koninkryk, deur almal net te laat wag vir die hemel “eendag”. Hy het geen probleem daarmee dat mense hulle harte vir Here gee en as hulle sterf wel eendag hemel toe gaan nie. So, hy het geen probleem dat hierdie boek sommige mense wel daartoe lei om hulle lewens vir Jesus Christus te gee nie. Net solank hulle nie uitvind dat hulle NOU REEDS oor die werklike outoriteit in God se Koninkryk beskik om sy demoniese magte op ’n daaglikse basis weg te jaag uit hulle lewens nie, en dit dan aktief begin toepas nie. Solank hulle hulle lewens regmaak om darem net “eendag” reg te wees vir die hemel, is hy tevrede. Hy sal enigiets DOEN en enigiets GEBRUIK om te VERHOED dat God se kinders werklik besef dat hulle NOU AL in God se volle outoriteit in Sy Koninkryk kan lewe, en oorwinning kan kry oor hom en sy demoniese magte, en hierdie boek is ’n goeie wapen in sy arsenaal. En as hy deur dit ook nog sommer bietjie twyfel in sommige Christene kan saai rondom die paar aspekte wat ek hierbo genoem het, is dit vir hom nog soveel beter, want dan begin sommige mense sommer twyfel oor God se onfeilbare Woord ook.

Ek bid vir elke leser van hierdie boek vir geopende geestelike oë, en vir die wysheid van God: “…dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand…” (Efesiërs 1:17,18) en ook:  “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” (Jakobus 1:5)

 Seën en vrede in Jesus Christus Naam!

 tiaan gildenhuys (tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming.

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...