Saturday 1 August 2015

Vreugde in Beproewing


Image result for god loves you

Voel dit ook vir jou asof alles te veel word? Die ekonomie raak al moeiliker, finansies al strawwer, die uitkoms al verder! Roep jy ook uit:

“Here waar is U?”

“Ek roep en U antwoord nie!”

“Hoekom gaan dit beter met die wat U nie dien nie, as met my?”

“Wat doen ek verkeerd wat verhoed dat U beloftes in vervulling kom?”

 Ek dink ons kan ‘n elle lange lys van hierdie tipe vrae maak. Instede daarvan om ons met hierdie gedagte rigting besig te hou, kom ons kyk na wat die Woord van God sê!

 In Jak 1:2 staan daar: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val.”

 Loutere vreugde? Is dit moontlik? Nee Cobus, jy weet nie waarvan jy praat nie! Dít is onmoontlik. Weet jy Belinda, dit het vir my net so onmoontlik geklink toe ek alles verloor het en bankrot verklaar is. Ek was kwaad vir God en het Hom blameer vir die gemors.

 In Mat 22:29 sê Jesus egter: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” Jy sien, ek het gedwaal omdat ek die skrifte nie geken het nie en die leuen geglo het dat God hierdie dinge oor my gebring het en / of dit toegelaat het. In Jak 1:13 – 16 staan daar: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort. Moenie dwaal nie, my geliefde broeders.”  Jy sien, ons Hemelse Vader versoek niemand nie. Ons word egter deur Satan weggesleep en gebind en daarom waarsku God ons in

Efes 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”  Ons stryd is nie teen God nie, maar teen die bose geeste van Satan.

 Nou waarom word ek so aangeval en beproef? Die antwoord lê in 1 Pet 1:6 & 7: “Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,  sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus.”  Jy sien Belinda, deur my geloof en fokus op Jesus gedurende hierdie beproewings, sal Hy die lof en heerlikheid ontvang en sal die wêreld kan sien hoe ‘n ware kind van God optree wanneer dinge moeilik raak. Die vraag is: Waar is jou fokus wanneer hierdie beproewings oor jou pad kom? Ja, jy kan nou vir my sê dat dit nie maklik is nie en dat dinge te veel word. In 1 Kor 10:13 verseker God jou dat jy dit kan verdra en verduur want daar staan “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”  So dit wat ek nie sal kan verdra nie, sal nie eers oor my pad kom nie. So dan beteken dit ook dat alles wat oor my pad kom, kan ek verdra en Hy sal ook die uitkoms gee. Weer is ons terug by die vraag: “WAAR IS MY FOKUS?”

Kom ons kyk na twee voorbeelde uit die Bybel van mense wat ook moontlik gevoel het dat hulle nie meer kan nie.

 Die eerste een is Josef.

 Ons lees in Gen 37:3 – 8 die volgende: “En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ‘n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ‘n lang rok met moue gemaak. Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie. Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat. Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het. Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig. Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.”

 Ek sien die volgende afspeel: ‘n Jong seun wat sy vader se witbroodjie is en dit ook weet, een wat dit duidelik maak aan sy ouer broers dat hy onaanraakbaar is, een wat hulle tart om hulle te probeer kry om hom iets aan te doen. ‘n Jong seun wat deur sy optrede gehaat is deur sy broers. Ek dink dat ons Josef in vandag se terme, ‘n bedorwe brokkie sou noem.

 Hierdie gehate bedorwe brokkie, wat volkome deur sy vader beskerm is, word gestuur om na die welstand van sy broers te verneem waar hulle in die veld besig was om die vee op te pas en ons lees in Gen 37:18 “En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak.”  Hier kom die geleentheid vir sy broers om van hulle “probleem” ontslae te raak. Hulle wou hom eers doodmaak maar verkoop hom toe. Gen 37:23 – 28: “En toe Josef by sy broers kom, … en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie. …. Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister.  En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.”  Josef word in die put gegooi en later aan vreemdelinge verkoop wat hom na ‘n vreemde land wegvoer. Ek kan my indink hoeveel beloftes en smekeninge van Josef op dowe ore geval het. Moontlik beloftes soos: “Ek sal nie meer so arrogant wees nie, ek sal dit nie weer doen nie”. En ook: “Ek is jammer!” Dit het Josef niks gehelp nie, hy is agter ‘n kameel vasgemaak en is weg gesleep. Waar hy probeer vasskop het, het die kameel hom eenvoudig net omgetrek en het hom oor die grond gesleep. Al sy gesoebat en gehuil was verniet!

 Josef is na Egipte geneem en is as ‘n slaaf verkoop. Kom ons lees Gen 39:1 & 2: “En Josef is afgebring na Egipte; en Pótifar, … het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het.  En die HERE was met Josef, sodat hy ‘n voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly.”  Hier is Josef in ‘n vreemde land met ‘n vreemde taal, vreemde kulture en vreemde godsdienste. Hy verstaan niemand nie en hy word verkoop aan Pótifar as ‘n slaaf. Waar was Josef se fokus in hierdie situasie? Op die Here want die Bybel sê: “En die HERE was met Josef”.  Al wat Josef hier staande gehou het was sy fokus en vertroue op die God wat hy deur sy vader leer ken het! Die karakter wat van kleins af in hom gebou is kom nou na vore. Nie die arrogante selfregverdiginde een nie, maar die absolute vertroue op die God van sy vader. Hierdie vertroue in God het so uit hom gestraal dat Pótifar hom oor sy huishouding aangestel het.

 Weet jy, soos ek en jy getoets word vir dit waarvoor ons staan, so is Josef ook getoets. Ons lees in Gen 39:7 & 8 daarvan: “Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my.  Maar hy het geweier …..”  Die lokaas word na Josef uitgegooi maar hy weerstaan dit. Op ‘n later stadium word dit weer uitgegooi en toe hy dit weer teestaan is daar ernstige gevolge. Kom ons kyk in Gen 39:10 - 16  “En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie, kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie. Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop. Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het, roep sy na haar huisgenote en sê aan hulle: Kyk, hy het vir ons ‘n Hebreeuse man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu; en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en gevlug en na buite geloop. En sy het sy kleed by haar neergelê totdat sy heer tuisgekom het.”   Josef weerstaan nog ‘n keer die versoeking, maar kyk wat gebeur nou. Gen 39:17 – 20  “En sy het hom met dieselfde woorde aangespreek en gesê: Die Hebreeuse kneg wat jy vir ons hier gebring het, het na my gekom om met my gek te skeer; en toe ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en na buite gevlug. Toe sy heer die woorde hoor waarmee sy vrou hom aanspreek: So en so het jou kneg aan my gedoen—het hy baie kwaad geword; en die heer van Josef het hom laat vang en hom in die gevangenis gesit op die plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die gevangenis.”  Die vrou van Pótifar vertel ‘n leuen aan haar man, die leuen word geglo, Josef kry nie eers die kans om homself te verdedig of sy kant van die saak te stel nie, en word in die tronk gegooi – onskuldig!

 Hoeveel keer was jy in die situasie waar leuens oor jou geglo is en jy veroordeel is? Waar ons vra waarom en hoekom? Ek dink Josef het dieselfde gevra.

 Wat het met Josef in die gevangenis gebeur en waar was God? Ons lees hiervan in Gen 39:20 “Maar die HERE was met Josef, en Hy het goedertierenheid aan hom bewys en hom guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis.”  Die Here was met Josef. Ook in hierdie donker uur in Josef se lewe, waar alles en almal teen hom gedraai het, was die Here met hom. Weet jy Belinda, die Here is ook daar vir jou in jou donkerste ure en wil Sy guns aan jou bewys. In Heb 13:5 beloof die Here:

 “… Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie”.  Al voel dit vir my asof ek ver van God af is, sê Hy dat Hy my nooit sal verlaat nie. Josef is, omdat die guns van God met hom was, oor al die gevangenis aangestel. Terwyl hy opgesluit is word die bakker en skinker van Farao opgesluit. Beide van hulle het drome gehad en Josef het die drome uitgelê. Ons lees die verhaal in Gen 40. Ek haal enkele gedeeltes aan: “Ná hierdie dinge het die skinker van die koning van Egipte en die bakker hulle misgaan jeens hulle heer, die koning van Egipte, sodat Farao baie kwaad geword het vir sy twee hofdienaars, ... En hy het hulle in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, in die gevangenis, die plek waar Josef gevange was. ... En hulle het altwee ‘n droom gehad, ... En Josef vra hulle: Is uitlegging nie ‘n saak van God nie? Vertel my tog. ... Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan, en bewys my tog ‘n guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit; want ek is gesteel, ja gesteel, uit die land van die Hebreërs, en ek het hier ook niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie. ...” Josef versoek die skinker om hom te onthou wanneer hy vrygelaat word en die skinker maak ’n belofte aan Josef om dit te doen. Hier word hoop aan Josef voorgehou dat geregtigheid sal geskied en dat sy lot verbeter sal word. Josef sit in afwagting en wag dat hierdie belofte in vervulling sal kom. Wat gebeur egter, Gen 40:23 “En die voorman van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, maar hom vergeet.”  Josef word elke oggend wakker met die hoop om vrygelaat te word om maar net weer te gaan slaap met die gedagte, miskien is dit môre. So gaan die dae die een na die ander verby.

 Wanneer het die skinker weer vir Josef onthou? Gen 41:1 - 8  “Ná verloop van twee volle jare het Farao gedroom dat hy by die Nyl staan; .... Toe het Farao wakker geword. En hy het weer aan die slaap geraak en nog ‘n keer gedroom; .... Toe het Farao wakker geword en kyk, dit was ‘n droom! Dié môre was sy gees onrustig, en hy het al die towenaars en al die wyse manne van Egipte laat roep; en Farao het aan hulle sy droom vertel, maar niemand kon dit aan Farao uitlê nie.”   Die skinker onthou eers 730 dae later van sy belofte aan Josef, nadat Farao drome gehad het en niemand dit kon uitlê nie. Hoeveel beloftes en ondernemings is aan jou gemaak waarvan niks gekom het nie. Josef se fokus was egter die hele tyd op God. Die skinker kom toe voor Farao en vertel hom van hoe Josef sy droom en die van die bakker uitgelê het. In

Gen 41:14 word die belofte aan Josef vervul “Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom.”  Josef kom voor Farao en lê sy drome uit. Farao besef dadelik dat dit wat Josef sê die waarheid is, tree dadelik op en stel Josef aan om dit tot uitvoering te bring: Gen 41:38 - 41  “Daarop het Farao aan sy dienaars gesê: Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is? En Farao sê vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie.  Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy.   Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland.”  Josef is in beheer van die hele Egipte en staan net onder Farao. ‘n Posisie van outoriteit wat God gebruik het om Sy kinders te red.

 Wat was die pad wat Josef moes loop om hier te kom:

           Vader se huis                    Gemaksone

           Put                                   Word ondersoek

          Pótifar se huis                   Vaslê en toets van beginsels

          Tronk                               Opgebou, toegerus, vertroue, wag op die Here

          Paleis                               Gesag , Outoriteit

 Dit is ook die pad wat ek en jy moet loop na ons posisie van outoriteit. Op hierdie pad moet ons egter die Heilige Gees van God vra om ons te lei, te beskerm en te vertroos waar ons seerkry, want weet jy, ons as kinders van God is nie gevrywaar teen seer nie. Daarom sê Jesus in Joh 14:16  “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid”   As ons Heilige Gees vra sal Hy ons troos, leer en help deur dit wat voorlê.

Kom ons kyk na die pad van Daniёl se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednégo.

 Volgens Daniёl 2:49 was hulle reeds in ’n posisie van outoriteit aangestel: “En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die koning.”  Dit het gebeur nadat Daniёl die droom van koning Nebukadnésar uitgelê het.Dan lees ons, Dan 3:1 - 6  “Koning Nebukadnésar het ‘n beeld van goud gemaak; … hy het dit opgerig in die dal Dura, in die provinsie Babel. ….. En ‘n uitroeper het hardop geroep: Julle word aangesê, o volke, nasies en tale,  sodra julle die geluid hoor van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.  En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word.”  Hier is ‘n direkte aanslag op Sadrag, Mesag en Abednégo se beginsels, geloof en vertroue op God. As hulle nie die beeld aanbid nie, sou hulle in die vuur gegooi word. Die vuuroond was reeds aangesteek en almal kon dit sien en die rook ruik. Dit was ‘n skrikwekkende werklikheid wat hulle in die gesig gestaar het.

 En toe blaas die instrumente!!!!!!  Almal buig voor die beeld, almal behalwe Sadrag, Mesag en Abednégo. Hulle staan regop terwyl almal op hulle gesigte, plat op die grond, voor die goue beeld lê. Daar was niks waaragter hulle eers kon wegkruip nie. En toe sien die koning hulle staan, laat hulle roep en vra in Dan 3:14 - 18  “En Nebukadnésar het gespreek en vir hulle gesê: Is dit met opset, Sadrag, Mesag en Abednégo, dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat ek opgerig het, nie aanbid nie? As julle dan nou, ... bereid is om neer te val en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid, goed; maar as julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos? Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.”

Wat antwoord hulle die koning? “Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie.” Weet u, o koning, hierdie vraag van u verdien nie eers ’n antwoord nie!! Ons sal géén kompromie ten koste van ons God aangaan nie, al kos dit ook ons lewens. Belinda hoeveel kere swig ons voor druk en gaan kompromiёe aan? Hoeveel kere haal ons ons fokus van God af en fokus op ons omstandighede?

 Nou ja, natuurlik het koning Nebukadnésar hom bloedig vererg en gee die bevel in Dan 3:19  - 20 “Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo; as antwoord het hy bevel gegee om die oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was. En aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende vuuroond te gooi.”  Hierdie vuur was so warm dat die wat hulle in die vuur gegooi het, doodgebrand het. Sadrag, Mesag en Abednégo val in die verskriklike vlamme en in die hitte. Weet jy, Belinda, ek en jy moet soms ook deur vuur gaan. Waarom deur vuur, vra jy? Ek lees in 1 Kor 3:11 - 13  “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.”   Ons werke sal deur vuur getoets word. Die vleeslike werke, hout – hooi – stoppels, sal verbrand en as word. Dit beteken niks. Die geestelike werke, goud – silwer – kosbare stene, sal gesuiwer word sodat die Here dit kan gebruik as boustene in Sy Koninkryk.

 Terwyl Sadrag, Mesag en Abednégo in die vuur is, lees ons die volgende in die King James Bible: Dan 3:24 & 25  “Then Nebuchadnezzar the king was astonied, and rose up in haste, and spake, and said unto his counsellors, Did not we cast three men bound into the midst of the fire? They answered and said unto the king, True, O king. He answered and said, Lo, I see four men loose, walking in the midst of the fire, and they have no hurt; and the form of the fourth is like the Son of God.”  Die oomblik toe die werke, die lewens en karakters van Sadrag, Mesag en Abednégo getoets word en suiwer bevind word, is Jesus – die Seun van God, by hulle, sigbaar ook vir die buite die vuuroond. Daarom roep koning Nebukadnésar hulle met die volgende woorde in

Dan 3:26 “Toe het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en daarop gesê: Sadrag, Mesag en Abednégo, knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier! Toe het Sadrag, Mesag en Abednégo uit die vuuroond uitgegaan.”  Die koning, wat ‘n voorbeeld van wêreldse outoriteit is, het onmiddelik die hoogste Outoriteit van God erken.

 Verder lees ek die volgende in die Bybel oor vuur: Mat 3:11  “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”  Johannes die doper praat hier van Jesus Christus wat ons sal doop met vuur. Waarom moet Jesus ons met vuur doop?

 In die tye van die Bybel moes die goud en silwersmede self die goud en silwer smelt en louter. Hulle het hitte gebruik om dit suiwer te kry. Vandag het ons natuurlik chemiese toetse wat gedoen word om die suiwerheid te bepaal. In die ou tye het hulle van ander metodes gebruik gemaak. Die goud of silwer was suiwer wanneer die smelter ‘n spiёelbeeld van sy gesig in die gesmelte goud of silwer kon sien. As dit nie ‘n duidelike beeld was nie, was dit nog nie suiwer genoeg nie en het hy die hitte verhoog om die onsuiwer uit te kry. Ek lees in Gen 1:26 & 27 “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers … En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”  God skape vandag nog mense na Sy beeld en gelykenis. Hy skape vandag nog die mens om te heers en Hy wil Sy beeld en outoriteit in my en jou sien wanneer hy in die smeltkroes kyk. Ek vra jou, Belinda, wat sien Hy wanneer Hy na jou kyk. Die perfekte spieёlbeeld van Homself, of hoeveel van jouself is daar nog? Dit is ‘n vraag wat net jy kan antwoord.

 Moet ek en jy Hom nie miskien vra om die vuur warmer te maak nie? Wat, vra jy, nog warmer. Dit is al klaar so moeilik in my omstandighede, waarom nog warmer? Weet jy Belinda, die Here gee vir ons ‘n belonging as ons suiwer voor Hom is!

Jak 1:12  “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”

 Ek bid dat die Heilige Gees van God hierdie boodskap in jou hart sal skryf en jou die krag sal gee om deur die vuur te gaan. Ek wil jou uitnooi om die volgende gebed hardop saam te bid. ‘n Gebed waarin ons Vader vra om die vuur warmer te maak sodat Sy perfekte beeld en gelykenis in my sigbaar sal wees.

Vader, ek kom na U in die naam van Jesus Christus. Ek bely dat Jesus die enigste Naam op die aarde is waardeur ek gered kan word en verklaar vandag dat ek Jesus aangeneem het, of nou aanneem as my Verloser en Saligmaker. Ek bely nou met my mond dat ek in my hart glo dat Jesus Christus vir my aan die kruis gesterf het, opgestaan het uit die dood en aan U regterhand sit. Dankie dat ek op grond van hierdie belydenis kan weet dat ek aan U behoort en U kind is.

 Ek kom nou en bely al my sondes. Ek bely ook as sonde dat ek my fokus van U afgehaal het en na my omstandighede verskuif het. Ek bely dat die wêreldsheid in my op die voorgrond gekom het, dat ek teen U gemurmereer het en ek vra U vergifnis.

 Ek kies ook om elkeen wat teen my gesondig het te vergewe, omdat U my sopas vergewe het. Dankie dat ek dit kon doen met die krag van Jesus.

 Ek vra U vandag, hier waar ek in die vuur is, dat U die vuur warmer sal maak en my suiwerder sal maak. Ek gee U toestemming om my te vorm na U wil. Dankie dat ek weet, U stuur U Heilige Gees om my te vertroos, te leer en toe te rus om diensbaar vir U te wees.

 Ek vra dit van U in die naam van Jesus Christus.

 Amen.

Ek bid dat Vader jou sal seёn en sal beskerm, Sy aangesig oor jou sal verhef en aan jou Sy vrede sal gee.

 Cobus van Heerden
(cvh@oicb.co.za)

Geplaas met toestemming.

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...