Saturday 1 August 2015

Die owerste van die Wêreld


Image result for dragon

Deur Cobus van Heerden - geplaas met toestemming.

Het jy al ooit gewonder oor wat sin maak in die lewe en waarom dinge gebeur wat tot jou en my nadeel is. Hoeveel keer sê ons in sulke omstandighede dat daar ‘n doel mee is, of dat dit die wil van God is of dat Hy ‘n plan het wat ons nie verstaan nie? Weet jy, baie van hierdie argumente is geldig maar ek wil hê dat ons dit so ‘n bietjie vanuit ‘n ander hoek bekyk.

‘n Tyd gelede het die Here my geseën met ‘n voertuig, ‘n Colt bakkie wat in ‘n uitstekende toestand was. By die ontvangs van die voertuig is daar in die gees dimensie verklaar dat die voertuig ‘n instrument sal wees wat baie mense by Jesus sal uitbring. Dit is ook deur verskeie ander manne en vroue van God bevestig. Dit wat ek ook addisioneel aan die voertuig aangebring het, is op Goddelike wyses voorsien. Ja en die voertuig is gebruik om by baie uit te kom en die verlossings boodskap van Jesus Christus te verkondig. Alles in lyn met dit wat oorspronklik gesê is.

En toe, so vyf maande nadat ek die bakkie ontvang het, word dit gesteel. Vanuit my erf nadat ‘n staal hek en ‘n slot oopgebreek is. Nie een van ons het wakker geword nie en die honde het ook nie eers geblaf nie. Toe ek die volgende oggend opstaan was die hek oop en my bakkie net weg.

Al die argumente en denk rigtings soos hierbo genoem kom in my gedagtes op. ‘n Vriend skakel my later in die dag en tydens ons gesprek sê hy dat ek moet onthou dat God nie in beheer van die wêreld is nie maar dat die wêreld behoort aan die “owerste van die wêreld”. Dit het ‘n onstuimigheid in my gees veroorsaak, want hoe kan dit moontlik wees dat God nie in beheer van die wêreld kan wees nie. Ek het met Vader begin gesels hieroor. Ek het vroeg een oggend opgestaan en gaan kyk wat hieroor in die Bybel opgeteken is.

Wie is die owerste van die wêreld. Dit is natuurlik Satan! In Openb 12:9 is geskrywe: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.”  Satan is op die aarde neergewerp en het sodoende ‘n reg om hier te wees. Ons sien dit ook waar hy vir Jesus versoek. Luk 4:5-8 “Toe bring die duiwel Hom op ‘n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ‘n oomblik se tyd. En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort. En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

Verder sê Jesus self in Joh 14:30  “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie.”  Jesus self erken dat satan die owerste van die wêreld is.

In Openb 21:1 is geskrywe:  “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.”  As God in beheer van die wêreld is, waarom moet dit dan met vuur vernietig word?

Nou wat het Jesus dan kom doen as God nie in beheer van die wêreld is nie? Gaan Hy ooit in beheer wees? Het ons dan nog hoop of is alles tevergeefs? Kom ons kyk.

Wat het Jesus kom doen? Ja natuurlik word ons gered as ons Hom as verlosser aanvaar. Hand 4:12 sê: ”En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”  Jesus bring redding. Hy bring egter baie meer as net redding. Hy bring ook Sy koninkryk. In Joh 18:36 sê Hy:  “… My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”  Hy verklaar baie duidelik dat Sy koninkryk níe van die wêreld is nie. Die koninkryke van die wêreld behoort aan Satan.

Jesus leer ons bid in Luk 11:2  “En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; …”  Hier bid ons dat God se koninkryk sal kom en Sy wil sal geskied, soos in die hemel so ook op die aarde.

Wat is die koninkryk van God? Dit is Sy outoriteit en gesag!! Nou wat is aan die gebeur? Hier word nou ‘n koninkryk van Goddelike gesag en outoriteit binne in ‘n ander koninkryk gevestig. Dit is presies dieselfde as wanneer ‘n sekere provinsie van ‘n land homself onafhanklik verklaar. Sodra dit gebeur is daar ‘n groot reaksie. Die gesag van die land staan op teen die provinsie en daar breek oorlog uit. Mense sterf, eiendom word verwoes en daar is groot skade en chaos. Dit is wat so ‘n paar jaar gelede in Rusland gebeur het. Chetsnia het onafhanklikheid verklaar vanaf die Russiese federasie en Rusland het oorlog verklaar en ‘n geweldige inval is geloots. Duisende het gesterf en miljarde dollar se skade is aangerig.

Dieselfde het gebeur toe Jesus Sy koninkryk uitroep op die aarde. Die owerste van die wêreld verklaar onmiddelik oorlog. Ons lees die volgende in Openb 13:1 – 10  “En ek het op die sand van die see gaan staan. En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, en sy pote soos dié van ‘n beer, en sy bek soos die bek van ‘n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee en veertig maande lank te doen. En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster. Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie. En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie. As iemand ‘n oor het, laat hom hoor. As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word. Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges.”

Hier lees en van ‘n oorlog wat gevoer word teen die heiliges van God. Díe wat in Sy koninkryk, gesag en outoriteit staan. Ek sien ook dat van die heiliges oorwin word en daarom vra Jesus in Luk 18:8  “Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?”  Ons lees in Mat 24:24  “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”  As gevolg van die intensiteit van die aanslae sal baie van die uitverkorenes begin twyfel in God en mislei word.

Wat sal my help om my geloof te behou? Net my posisie in die koninkryk van God. Net my outoriteit in Christus. In 1 Joh 4:4 staan: “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”  Daarom moet ek en jy vas staan, ons oë gevestig op Jesus die voleinder van ons geloof volgens Heb 12:1 & 2  “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”

Kom ons besef dat ons bywoners en vreemdelinge op hierdie aarde is. Heb 11:13 sê:  “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.”  In Philip 3:20 lees ons die volgende:  “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus.”  Hieruit is dit baie duidelik dat ons nie van die wêreld is nie. Daarom sal ons gehaat, vervolg en ook doodgemaak word. Ons is deel van ‘n koninkryk wat volgens die wêreld onwettig is en onderdruk en vernietig moet word.

Daarom sê Jesus in Mat 5:10  “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”

En in Joh 17:14  “Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.”

Ek en jy is nie gevrywaar teen aanslae nie. Ook nie teen vervolging en verdrukking nie. Ja ek weet dat dit nie maklik is as dit gebeur nie. Die vraag is egter: Hoe hanteer ons dit? Waar is ons fokus? Ek weet dat dit moeilik is om op Jesus gefokus te bly as daar nie kos in die huis is nie, as jy uit jou huis gesit word, jou eiendom gesteel word. Jesus sê in Mat 8:20 en Luk 9:58 “Toe sê Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.”  Jesus het dit ook moeilik gehad hier op aarde.

As jy openinge in jou lewe het waardeur satan toegang kan verkry, bely dit voor God en maak daardie deure toe. As jy egter weet dat die openinge toe is, tel jou kop op, fokus op Jesus Christus en begin leef in Sy koninkryk. Ons is so baie keer geneig om die oorsaak te soek by openinge wat daar nie is nie, en dit maak ons oneffektief in God se koninkryk.

Kom ons kies om in die geveg in te gaan, met die besef dat ons kan seerkry of sterf maar met die wete dat ons God daar is en ons sal beloon volgens Sy genade.

In Sy koninkryk het ons gesag. In Sy koninkryk kan ons staan op Sy woord wat sê in Luk 10:19  “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand …”  In Sy koninkryk sal on as konings op die aarde heers!!

Ek bid die vrede van onse Here Jesus Christus oor jou.

Liefde in Jesus Naam.

cobus van heerden (cvh@oicb.co.za)

Geplaas met toestemming

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...