Saturday 29 February 2020

Hou jou pad suiwer


Psalm 119:9-16:"Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge! Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond. Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom. Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie."

Hierdie week kyk ons o.a. na die baie bekende woorde van Psalm 119:9 oor waarmee die jongeling sy pad kan suiwer hou en dan die net so bekende antwoord dat hy dit slegs kan doen deur dit te hou na God se Woord. Geen mens kan sy lewe op hierdie aarde suiwer hou as hy of sy dit nie doen volgens God se Woord nie.

Daarom moet ek en jy self ook daagliks leer doen wat Dawid vir ons hier geskryf het, naamlik om God te soek met ons hele hart. Dit beteken nie halfhartig of louwarm nie, maar met alles binne-in ons. Want wanneer ek God se Woord gaan ondersoek, en Hom soek met my hele hart, sal dit my help om nie af te dwaal van Sy gebooie nie.

En as ek Sy Woord in my hart bêre gaan dit my ook help om nie teen God te sondig nie. Maar om Sy Woord in my hart te bêre, gaan ek nodig hê om Sy Woord te bestudeer op 'n daaglikse basis, en met Hom in 'n intieme persoonlike verhouding te wees, sodat ek ook die tipe persoonlike gesprekke met ons hemelse Vader kan hê wat Dawid hier in Psalm 119 met Hom gehad het.


Dit sal daartoe lei dat ons ook soos Dawid sal uitborrel oor hoe werklik lofwaardig is ons God en Here. En by watter beter Leermeester kan ons Sy insettinge en instruksies leer, as net by ons Vader Homself?

En wanneer ons Hom so intiem leer ken, gaan ons ook nie anders kan as om ander mense rondom ons te vertel van dit wat ons by God gehoor het en uit Sy mond geleer het nie. Dit lei verder daartoe dat die vreugde van Here oor my en deur my sal vloei en my vrolik sal maak in my omgang met die Here en dat ek altyd 'n borreling in my het om andere te vertel van Sy Woord en wat dit in my lewe veroorsaak het.

Want jy sien, wanneer jy hierdie dinge van God en Sy Woord begin verstaan en deel maak van jou lewe, word dit soos kosbare skatte en allerhande rykdom wat jy vanuit die Woord opdiep.

En dan, soos met alles in ons hemelse Vader se Woord, het ons die vrye wilskeuse, of ons soos Dawid Sy bevele WIL oordink of nie, en het ons ook dieselfde keuse om te sê ek SAL my verlustig in U Woord en U Woord SAL ek nie vergeet nie. Dit is die vrye wilskeuse wat ons Vader aan elkeen van ons gee, Hy het ons immers nie marionette gemaak nie.

Mag ons dus elkeen in hierdie week kies om dieselfde dinge te doen as wat Dawid ook geleer het om te doen en vir ons in hierdie teksverse neergepen het.

GEBED: 

"Vader, leer my asseblief om U Woord daagliks te bestudeer en dit in my hart te bêre, sodat ek ook my weg kan suiwer hou na U Woord. Leer my U insettinge want ek wil U met my hele lewe loof. Lei my ook deur U Heilige Gees om teenoor almal rondom my te praat van U wonderlike getuienisse Here, ek wil my ook verlustig in U Woord en ek sal U Woord nie vergeet nie. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...