Thursday 12 March 2020

Sing 'n halleluja


Psa 149:1-9  Halleluja! Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied, sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
Laat Israel hom verheug in sy Maker; laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning! Laat hulle sy Naam loof in koordans, Hom psalmsing met tamboeryn en siter. Want die HERE het ‘n welbehae in sy volk; Hy versier die ootmoediges met heil. Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde. Lofverheffinge van God is in hulle keel, en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand; om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; om ‘n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ‘n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!

Een van die sterkste wapens wat ons as kinders van die Here het, is lofprysing in ons hart en in ons mond! As ons dan ook kyk na die bogenoemde Psalm, dan sien ons dat dit soos 'n tweesnydende swaard is waarmee ons strafgerig kan uitoefen teen die konings en edeles van die koninkryk van duisternis. Ons lees in Efesiërs 6 dat ons stryd nie teen die mens is nie, maar teen hierdie magte van duisternis.

Ons lees dan ook dat Paulus aan Timótheüs opdrag gee dat die mense bymekaar moet kom om in eensgesindheid te bid en dan ook hulle hande op te hef in lofprysing aan die Here.

1Ti 2:8  Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.


As ons teruggaan na die uittog uit Egipte en terwyl die Israeliete by Rafidim vertoef het en die Amalakiete teen hulle kom veg het, sien ons dat Moses, Aäron en Hur op die top van die heuwel gaan staan het en die geveg aanskou het. Moses het sy hand met die staf van God omhoog gehou en terwyl sy hande hoog was, het Israel die oorhand gehad, maar sodra sy hande begin sak het, was Amalek die sterkste. Aäron en Hur het naderhand 'n rots onder hom gesit dat hy daarop kon sit en gehelp om sy hande hoog te hou totdat die vyand verslaan was.

Daar het Moses dan ook 'n altaar gebou en dit genoem: “Die Here is my banier.”

Netsó is God vandag steeds ons banier as ons met lofprysing en aanbidding tot Sy troon nader.

Ef 5:19  Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,
Ef 5:20  terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus,

Kol 3:16  Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.
Kol 3:17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

GEBED:
"Here Jesus, U is waardig om geloof en geprys te word, want U alleen is ons beskutting en beskerming, ons banier. Gee dat daar elke dag van ons lewens, 'n lied in ons hart en in ons mond sal wees om aan U eer te bring...amen!"

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...