Tuesday 11 February 2020

Bly in die spel


Soms, en net soms, gee die voltydse bediening vir jou 'n bietjie 'cabin fever' en jy weet net; NOU moet jy hier uitkom en vinnig roetine breek. Ek reël toe vir my 'n sessie 'Racquetball' saam met 'n ou vriend.

Ek het egter nog nooit voorheen teen hom gespeel nie, behalwe tafeltennis. Ek het ook geweet, dat hy redelik goed is met muurbal en dat hy vir my 'n lekker uitdaging kan wees. Ek wou toe aan hom, hierdie nuwe Amerikaans-ingevoerde sport [Racquetball] voorstel met die hoop, dat die gogga sal byt en dat ons heeltyd dit kan speel. Die spel is aansienlik stadiger vir al die 'ouer' garde, duskant 50. Muurbal het net te vinnig geword vir my. Racquetball is redelik identies aan muurbal, behalwe dat die rakket en bal net twee keer groter is. Met hierdie sport, kan jy ook meer domineer vanaf die middel af. Lekker groot pret.

Toe nie vir my, op daardie spesifieke dag nie! My vriend het my absoluut niks gespaar nie. Ek het parkering gesoek, om die waarheid te sê. Die streng kompetisie het toe verander in 'n standaard oefensessie - 'n baie diplomatiese manier, waarop jy vir iemand wil sê, dat jy eindelik in die verkeerde liga is. Ek het 'n staande reël met al my vriende, dat jy speel jou beste spel teen my. 'You daren't soft-play me in the match.' Daar is nie 'n groter vernedering, as jou mededinger probeer om 'aan te pas' by jou swak spel, sodat jy goed moet lyk nie. Dit is net af.

My realiteit vir daardie dag was: Ek kon nie vinnig genoeg by al die balle uitkom nie; my muurhoue was pateties; ek het heeltyd in sy hand gespeel en hoegenaamd nie gedomineer vanaf die middel af nie; my 'dropshots' het ewe skielik vlerke gekry en ek was heeltyd uitasem uit gewees. Die eenvoudige, basiese dissiplines van die spel, was vir my net heeltemal buite bereik gewees. Gun my ook om te sê, dat ek twee jaar laas Racquetball gespeel het. Ek draf gereëld om die blok, maar die fiksheid element, soos almal weet, is net nie dieselfde nie.

Tot my ontnugtering, moes ek ook ná die tyd hoor, dat my mededinger eintlik nou vir 'n geruime tyd al vir die A-liga muurbal speel! Ek het dit nie geweet nie. 'Knowledge is power, right?'

Ek besef toe, dat hier 'n geestelike parallel is.

Baie gelowiges het my spreekkamer al vol gesit, wat lelik afgedwaal het vanaf die geloof of verkoel het in hul liefde vir God of verval het in erge sondige-en bose praktyke. En klokslag met 30% van alle gevalle, vergeestelik hulle dit met 'n antwoord; dat dit aanvanklik God was, wat hulle in 'n geestelike 'sabbatical' jaar of twee van isolasie ingeroep het; wanneer jy hulle dan nou vra, hoe hulle hiér in 'Hartseerville' beland het? Jy waag ook om hulle te vra, of hulle heeltemal seker is, dat hulle reg 'gehoor' het by die Here, en hoe God Sy Woord aan hulle bevestig het, om dan nou te onttrek vanuit Sy liggaam se gereëlde gemeenskap en gesonde leer uit, vir so 'n lang seisoen?

Met baie verwarring, kon nog min kliënte effektief my vraag geantwoord het. Ek het nie 'n probleem, as Vader jou roep tot kort tye van afsondering nie, maar wanneer jy glo, jy ook vir twee jaar uit die spel geneem moet word, soos ek, gaan jy erge gevolge van verwaarlosing wys. Om nie eers te praat van die spiere, wat jy gaan trek of skeur nie.

Wanneer jy enige gesonde ledemaat vanaf 'n lewendige liggaam afsny en eenkant in 'n hoek gooi, gaan hy begin vrot en uiteindellik doodgaan. Hy gaan sy bloed-en-suurstof toevoer verloor vanaf die gasheer - die liggaam - en ophou funksioneer. Hy sterf. Hy is losstaande. [detached]

God is 'n familie-God. Hy glo aan familie en die gesin. Hy het hierdie wonderlike konsep Self ontwerp vir elke gelowige, om 'geborge' te wees in Sy liefde. Om GEBORGE te voel, beteken die volgende: 'Ek is geliefd, ek is beskermd en my basiese behoeftes is voorsien'.

Baie vra my: 'Hoe op dees aarde, het ek in hierdie misleiding beland, broer? Hoe het ek hier gekom, Hennie?' Ek vra dan: 'Loop jy miskien alleen of is jy aangeheg [attached] aan 'n liggaam, wat vir jou, al jou blinde kolle in liefde en genade kon uitwys?' Spreuke 18:1 leer ons, dat 'n mens nie ontvanklik is vir enige inspraak, as jy jouself isoleer nie. Ander vra my weer: 'Hoekom beleef ek ook nie God se sorg, Sy voorsiening en Sy liefde, soos die meeste van julle nie?' Ek vra dan: 'Loop jy miskien alleen of is jy aangeheg [attached] aan 'n liggaam, waardeur God aan jou kan voorsien, wat jy daagliks nodig het?' Ek kan nie eers vir myself probeer indink, dat my 9-jarige seun, nou sy ouerhuis wil verlaat en vir twee jaar 'antwoorde' gaan soek of opleiding in geregtigheid wil gaan ontvang in die woestyn nie. Dit maak nie sin nie, doen dit?

Ander is nou weer passief-aktief betrokke in 'n liggaam, maar te trots om te vra vir enige hulp of leiding. Tussen almal, maar só alleen.

Romeine 8:15 verduidelik mooi aan ons, dat met jou oorgawe, jy nou deur 'n intieme Vader in 'n nuwe familie ingeplant is. Saam met vaders, kry jy ook families. Wees deel van Sy familie, asseblief, kind van God. Vind vir jou 'n geestelike gemeenskap, waar jy ook 'geborge' kan voel, as jy nie alreeds een het nie. En dit hoef nie eers baie te wees nie.

En wanneer jy dan nou een vir jou gekry het, is dit ook belangrik om jou spel te BLY beoefen, deur gereëld op te daag vir die Racquetball sessies! Bly fiks en aktief, sodat jy sonder moeite, by al die balle kan uitkom!

Hebreërs 10:25 bemoedig ons: '..en laat ons, ons onderlinge byeenkomste nie versuim, soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer, namate julle die dag sien nader kom.'

Gebed:
"Vader, bind my hegter aan 'n liefdevolle familie, waardeur ek ook geborge kan voel. Lei my, asseblief Here. Dankie vir die selfdissipline, om gereëld op te daag vir die oefensessies in die Gees. In die wonderlike Naam van Christus Jesus. Amen."



 Geskryf deur: hennie van der westhuizen
(info@paragonlife.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...