Monday 17 February 2020

Sovêr dit van jou afhang



Een van die grootste geskenke wat enige mens in sy lewe kan ontvang, is die geskenk van vrede...om werklik vrede in alle omstandighede te kan hê...ten spyte van die dinge waardeur mens soms gaan, of dinge wat rondom jou aan die gang is...om altyd na daai plek van vrede te kan terugkeer.

Daardie tipe vrede kan mens egter net kry as jy die Prins van vrede ontmoet het en Hom die Heer van jou lewe gemaak het!

'n Hele paar jaar gelede, het die Here vir my baie duidelik in 'n droom gesê dat vrede 'n keuse is en dat dit van die mens afhang of hy daardie keuse gaan maak al dan nie. Paulus is ook baie duidelik daaroor in die brief aan die heiliges in Rome.

Rom 12:17  vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense;
Rom 12:18  as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

In ons land is daar op hierdie stadium baie dinge aan die gang wat daarop uit is om vrees in te boesem en om die vrede  by mense te steel. Daardeur word daar deur die Satan ook baie verdeeldheid gesaai en dan ook baie spesifiek in die liggaam van Christus. Die Duiwel weet dat as daar nie eenheid is nie, daar ook nie krag is nie en só lê hy die ware kerk van Christus lam in tye waar dit regtig nodig is dat mense die krag van God kan sien en beleef.

Gelowiges se fokus word getrek na die fisiese dinge rondom ons sodat ons nie in die Gees bly fokus nie en bring mee dat baie kinders van die Here se woorde en optrede nie strook met die beeld van Christus nie. Baie leef dan ook meer in vrees en swaarmoedigheid as met blydskap en dankbaarheid.

Só wat het hierdie manne gehad of geweet wat ons in vandag se tye die kol laat mis?

Fil4:4  Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!
Fil 4:5  Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.
Fil 4:6  Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
Fil 4:7  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Ek glo dat ons beslis in die laaste dae leef en weet ook dat die dinge van duisternis net nog erger gaan word, aangesien Jesus ons ook daaroor gewaarsku het. Die droogte en politieke dinge in ons land het baie kinders van die Here op 'n baie laagtepunt in hul lewens gebring en dit het verseker 'n groot impak op mense.

Tog is dit van uiterste belang dat ons in hiérdie tye juis die eenheid onder gelowiges moet beskerm, aangesien baie aanvalle ook uit eie geledere kom. Daarom moet ons ook ag slaan op die Gees se vermaning daaroor deur Paulus in sy briewe aan die Korinthiërs.

1 Kor 1:10  Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.

GEBED: 
"Ons hemelse Vader, U sien en ken die dinge waardeur ons nou deurgaan en U het ons ook gewaarsku dat dit sal kom. Kom versterk ons opnuut met U krag uit die hoogte dat ons kan staande bly in hiérdie tye, sodat ons ook tot die einde toe sal volhard. Help ons om die eenheid tussen U kinders te bewaar en vergewe tog ook ons aandeel in die verdeeldheid wat daar reeds is...amen!"

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...