Tuesday 11 February 2020

Onderhou Sy opdragte


Psalm 119:4-8: "U het u bevele gegee om dit trou te onderhou. Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou! Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie. Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer. Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie."

Ons sien in hierdie paar verse dat die Here Sy bevele in Sy Woord vir ons gegee het vir 'n spesifieke rede. En daardie rede is sodat ons kan leer om dit trou te onderhou.

Om dit trou te onderhou, beteken dat ons GETROU sal wees in die onderhouding daarvan, dat ons nie sal afwyk in ons gehoorsaamheid aan Sy Woord en Sy opdragte nie. En Dawid roep uit dat hy so graag wil hê dat sy weë STANDVASTIG sal wees om die Here se insettinge te onderhou.

Netso moet die uitroep in my en jou harte in hierdie week wees dat ons weë, by die huis en by die werk, vas moet wees om God se insettinge te onderhou.

Want doen ons dit so, is daar 'n belofte in hierdie teksverse opgeneem, naamlik dat ek dan nie "beskaamd" sal staan nie. Dit beteken niks anders dat as ek gehoorsaam is aan God se Woord en Sy opdragte, dan hoef ek my nie vir  enigiets in my lewe te skaam nie. Hoekom nie? Want ek gaan dan nie daardie tipes goed in my lewe doen wat wil veroorsaak dat ek my moet skaam vir my optredes teenoor my geliefdes of werkskollegas nie.

Verder is daar dan die bemoediging dat as ek Sy regverdige verordeninge in Sy Woord leer, dit die gevolg sal hê dat ek Hom sal begin loof met 'n opregte hart. Want dit is absoluut so waar dat hoe meer ons God en Sy Woord leer ken, en besef hoe reg en regverdig Hy is, kan ons nie anders as om Hom in ware opregtheid te begin loof en prys nie.

En dit doen ons nie net met ons monde nie, nee, ons begin dit met ons hele lewens doen, sodat ons hele lewe uiteindelik 'n loflied en 'n lofoffer vir ons God begin raak, hetsy tussen ons familie, vriende, of by die werk. En as ek Sy insettinge, Sy opdragte in Sy Woord onderhou, sal Hy my nooit verlaat nie, en al was ons broer Dawid bekommerd daaroor, weet ons dit sal nooit gebeur nie.

Hoe weet ons dit? Want ons het die brief aan die Hebreërs tot ons beskikking wat hy nie gehad het nie. En kyk hoe mooi staan dit in Hebreërs 13:5: "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie."

Mag ons dus elkeen in hierdie week Sy gebooie en opdragte getrou en vas begin onderhou, sodat ons ons nie hoef te skaam vir enigiets wat ons gedoen het nie, en mag ons in ons daaglikse lewens Hom met opregte harte loof.

Maar ten einde dit reg te kry het ons natuurlik nodig om Sy Woord daagliks getrou te BESTUDEER.

GEBED: 

"Vader, dankie dat U U bevele vir ons gegee het om dit getrou te onderhou. Leer my asseblief in hierdie week ook om dit so te begin doen, sodat ek my nie meer hoef te skaam vir my eie optredes nie, en sodat my lewe 'n opregte lofoffer tot U eer sal word. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...