Tuesday 28 January 2020

Klippies in die skoen


Pred 3:1  Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd:
Pred 3:5  ‘n tyd om klippe weg te gooi en ‘n tyd om klippe bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing,

Terwyl ek stil word by die see op die eerste dag van 2020, wys die Here op 'n stadium die hoef van 'n perd in my hand. Toe ek Vader daaroor vra, ervaar ek Hy sê dat ek aan die onderkant moet kyk en toé sien ek dat daar 'n klip langs die frok vassit wat al 'n bloedblaar gedruk het. Omdat ek self perde gehad het, weet ek dat dit belangrik is om elke dag die hoewe skoon te krap sodat daar nie iets vassit wat die perd se voet kan seermaak en veroorsaak dat hy mank word nie.

Ek ervaar daarmee dat Vader sê dat baie van Sy kinders sulke klippies in die skoen het wat maak dat ons bietjie ”papwiel” rondloop en nie in die volheid lewe van wat Hy bestem nie. Daardie klippies kan verskeie goeters wees en soos ons aan die begin van hierdie jaar kom, het dit ook tyd geraak dat ons weer bietjie huisskoonmaak en weggooi en dat ons dit wat in die verlede behoort, in die verlede los, sodat ons met nuwe hoop en verwagting die nuwe jaar en nuwe seisoen tegemoet kan gaan.

Die Woord sê dat dié wié in Christus is, is n nuwe skepsel...die oue het verby gegaan en die nuwe het gekom (2 Kor 5:17). Net só het daar baie dinge in verlede jaar met elkeen van ons gebeur wat nie só lekker was nie en wat groot beproewinge mee gebring het...tog het dit tyd geword om dit agter te laat, harte skoon te maak en by vergifnis en vryspraak uit te kom, want die verlede kan nie verander word nie. Tog sal dit wat jy in jou hart ronddra, bepaal hoé jy die toekoms sal ervaar.

Môre behoort aan niemand nie en die verlede is verby...elkeen van ons het net vandag en vandag mag dalk ons laaste dag in hiérdie tentwoning wees...só wat gaan die herinneringe wees wat jy agter laat as jy vertrek, want dit sal vér langer hou en 'n groter impak hê as enige materiële ding wat jy mag nalaat en wat jy dalk nou só agterna jaag om bymekaar te maak vir jou geliefdes.

Mag die nuwe jaar gevul wees met God se liefde, Sy vrede, Sy krag en voorsiening, met blydskap en dankbaarheid in alle omstandighede en 'n lied in jou hart en jou mond om ons Koning, Jesus Christus, mee te eer!

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...