Tuesday 14 January 2020

Geseënd is die opregtes


Psalm 119:1-3: "Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel. Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel."

Gedurende Desembermaand 2019 het die Heilige Gees werklik in my hart begin praat vanuit Psalm 119, en het ek ervaar om deur die loop van van 2020 (Ps.119 - "toevallig" is 1 + 19 = 20) saam met jou en die Heilige Gees deur hierdie Psalm te stap, want daar is soveel diep waarhede en bemoedigings in hierdie Psalm vervat.

In hierdie eerste 3 teksverse daarvan, leer ons 'n paar baie belangrike gedagtes om hierdie nuwe jaar mee af te skop, gedagtes wat ek en jy beslis van moet kennis neem en ook in ons daaglikse lewens moet toepas.


Eerstens lees ek dat die "opregtes van weg" met ander woorde, diegene wat opreg wandel saam met die Here, "welgeluksalig" is. Die woord "welgeluksalig" beteken niks anders as "geseënd" nie. Maar kyk mooi dat daardie "opregtes" net geseënd sal wees as hulle "in die wet van die Here wandel", met ander woorde gehoorsaam aan Sy Woord. Dit beteken dat ek en jy in hierdie jaar 'n keuse moet maak om moeite te doen met Sy Woord, sodat ons ook Sy wet kan ineem, en daarvolgens kan lewe (wandel).

Tweedens sien ek daar dat ons geseënd sal wees as ons "Sy getuienisse bewaar", met ander woorde gehoorsaam is en doen wat Hy in Sy Woord getuig oor Sy Godheid, Sy grootheid, Sy goedheid en Sy genade, en as ons Hom "van  ganser harte soek". Dit beteken ek moet Hom met my hele hart soek en om dit te doen, moet ek tyd met Hom en Sy Woord spandeer op 'n daaglikse basis.

Laastens sien ek dat ons ook geen ongeregtigheid moet doen nie, met ander woorde daardie dinge van satan wat sonde in ons lewens veroorsaak nie, en ons moet "wandel in Sy weë". En ons gaan weereens slegs weet wat Sy weë alles behels, as ons moeite doen om daagliks ons Skrifte te lees en bestudeer en om deurlopend in die dag met Hom in gesprek te wees by wyse van ons gebede.

Omdat ons as kinders van die Here weet dat God nie teen Homself verdeeld is nie, en dat Hy nog nooit verander het nie, en dat Hy gister, en vandag en tot in alle ewigheid dieselfde is, weet ons dat daardie presiese woorde wat Dawid destyds neergepen het, vandag nog ook op jou en my van toepassing is.

Mag ons dus elkeen in hierdie week kies om opreg te wandel in God se Woord, Sy getuienisse ook in ons eie lewens te bewaar, Hom van ganser harte te soek, geen ongeregtigheid te doen nie, en om daagliks by ons huise en by ons werk, te wandel in Sy weë.

GEBED: 

"Vader, dankie dat ek kan weet U is gister en vandag en tot in alle ewigheid dieselfde. Help my asseblief in hierdie jaar om opreg te te wandel in U Woord en in U weë, om nie ongeregtigheid te doen nie, en om U van ganser harte te soek, want ek gaan dit nie op my eie kan regkry nie. Want ek weet dat as ek dit in U krag doen, dan sal ek volgens U Woord geseënd wees. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za) 

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...