Tuesday 21 January 2020

Wat is Emosionele Intelegensie? (E.I)


Emosionele Intelligensie. 'n Groot woord. In my besigheid, as lewensafrigter en spanbou spesialis [theteambuilder.co.za], word ek weekliks gekonfronteer met die nuwe korporatiewe 'buzzword' en volgende vraag in die besigheids arena: 'Dink jy, my werknemers is emosioneel slim, Hennie?

Hoe antwoord jy so 'n vraag van 'n CEO, sonder om nie eers saam met hom deur 'n lys van 'dealbreaker' vrae te gaan nie? Eenvoudig? Nie sommer nie, want jy moet hom persoonlik uitdaag en vra; hoe emosioneel 'aangeskakel' is hy self, teenoor sy eie werkspan se behoeftes? Jy moet dit vir hom uitspel. Gewoonlik sal sy benoude antwoord 'n goeie aanduiding wees, watter gees vanaf die hoof af vloei, onder na die tone toe. Dit sal uiteindelik dan ook net hierdie spesifieke gees wees, wat gaan heers in die betrokke maatskappy of huishouding. En dan werk jy van daar af. Jy begin by die kop. En voor jy sien, val die res van die liggaam in plek. Of soms nie. Keuses, nê?

Betroubare navorsing het bewys, dat 80% van jou werks optrede en lewenskwaliteit, aan EI toegeskryf word. Net 20% gaan oor jou spesifieke vaardigheid, m.a.w 'hoe' jy die elektriese boor moet gebruik op die bou-perseel. Ons noem dit die 'harde vaardighede'. Die oorblywende persentasie 'sagte vaardighede', word toegeskryf aan jou persoonlike ingesteldheid en selfdissipline. Met ander woorde - jou hart.

Wanneer ek dan nou hierdie EI werkswinkels aanbied vir maatskappye, moet ek my gereeld verstuit, om soms net uit te skreeu aan 'n oningeligte wêreldse gehoor; dat Jesus Christus eintlik vir ons die perfekste modelering van EI kom doen het! Kom ons volg net Sy voorbeeld. Dit is nie 'n nuwe konsep nie. Dit is al baie oud. Antiek, om die waarheid te sê. Maar, nou mag ek dit soms nie sê nie, want jy moet mos altyd 'polities korrek' bly.

Die woordeboek definisie van Emosionele Intelligensie, verduidelik dat dit 'die vermoë is, om bewus te wees van jou omgewing en mense, en om jou emosies uit te kan druk, en interpersoonlike verhoudings, emosioneel oordeelkundig te kan bestuur.' In kort, EI is die vermoë, hoe ons interaksies 'herken' en 'verstaan' en dan te kies, hoe ons gaan dink, voel en reageer in daardie betrokke scenarios. Die Engels klink net mooier: 'It is merely not seeing a need, but perceiving a need, and then meeting that need effectively.' Capish?

Die Bybelse weergawe van EI, vind ons in Jesus se woorde in Johannes 5:19, waar Hy dit vir ons baie duidelik maak, dat Hy net kon doen en sê, wat Hy sien Sy Vader gedoen en sê het. Hy kon niks uit Homself uit doen nie. Dit is hoekom Jesus se afsonderings tye so belangrik vir Hom was. Hy wou nie 'uit sinchronisering' wees met Sy Vader se hart en werksaamhede nie. Die kommunikasie lyn moes heeltyd oopbly, sodat die Vader Sy doelwitte in Sy Seun tot stand kon bring.

Hierdeur was Jesus emosioneel so slim en aangeskakel gewees, teenoor Sy eie wêreld. Lees gerus al die evangelies. Elke keer, wanneer Jesus 'n wonderwerk gedoen het, het Hy eers 'n diepe deernis gehad vir die mense. Drie woorde in hul onderskeie volgorde: Aangeskakel - Ontferming - Gehoorsaamheid.

Die baie fynbesnaarde Apostel Paulus, kom rond EI af met 'n stelling, wat selfs hedendaagse gelowiges laat flam vat. Hy beweer in Romeine 8:14, dat jy alleenlik 'n kind van God genoem kan word, as jy deur Sy Gees gelei word. 'n Baie kontroversiële stelling inderdaad. Ewe skielik is daar nou geen ruimte meer vir 'n vleeslike lewe nie. Hy gaan selfs verder aan om te sê, dat vleeslikheid, eindelik vyandskap teenoor God is. Nog 'n groter ontnugtering.

Vir baie goeie redes; en in die sagte lig van gesonde EI, wil ek nogal saamstem met Oom Paulus se gevaarlike stellings.


Kom ek pak hom vir jou uit: As jy 'n daaglikse Romeine 8:14 Gees-geleide wandel het, waar jy elke sekonde van die dag, net dít uitvoer wat die Vader van jou verwag, sal die intense fokus op jouself en ook jou eie vleeslike behoeftes, drasties verander na 'n gekonsentreerde fokus op Vader se hart in die aarde. Jou ingesteldheid sal heeltyd een wees van: Wie wil Hy volgende bedien en aanraak, deur my beskikbaarheid? Om gereeld hierdie doel voor oë te hê, maak ons dit ook vir die vyand moeilik, om ons te 'hak' vir 'n selfsugtige en vleeslike bestaan.

In elke optrede, het Christus Sy Vader verheerlik. Die fokus was elke keer gedraai na Sy Vader toe. Ek onthou in Johannes 2:13-17, hoe Hy Homself moes gaan bedaar het, toe hulle Sy Vader se huis in 'n handelshuis wou verander het. Hy moes gaan sweep vleg. Hoe lank vat dit, om 'n sweep te vleg, vra jy my? Wel, so lank as wat dit nodig was vir Jesus, om al Sy emosies te konsolideer en in die regte rigting te navigeer, sodat mense nie daar kon seerkry nie. En nog meer - Sy Vader se Naam nie beskadig word nie.

Kyk hoe emosioneel slim, evalueer en tree Jesus op, teenoor 'n desperate Maria Magdalena in Johannes 8:1-11. Wat vra Hy nou eintlik vir 'n groep klipgooiers wat toyi-toyi, rondom 'n owerspelige vrou, as Hy hulle moet vra, om liewer genade aan die vrou te betoon? Hy vra hulle eindelik, om doelbewus ongehoorsaam te wees aan die heilige Skrifte, wat juis die opdrag gee, om hierdie vrou te mag stenig. En dit kan Hy verseker nie doen nie, want Hy word mos 'Rabbi' genoem deur Sy volgelinge. Maar nou ontferm Hy Homself oor haar en wil haar 'n uitkoms en tweede kans gee in die lewe. Wat doen Hy nou, want dit klink vir my soos 'n klassieke 'Catch22?'

Hy buk af en skryf iets in die sand.

Hy daag hulle ook uit, om die eerste klip te gooi, as hulle geen sonde het nie. Dit lok so 'n sterk en buitengewone reaksie uit die laksmanne uit, dat jy net hoor klippe val. Al ooit gewonder, wat Hy daardie dag in die sand geskryf het? Die Woord verberg dit egter vir ons, maar dit het my nogal aan die dink gekry: Wat moes 'n erg-misleide en hoogmoedige, godsdienstige en selfgeregverdige deursnee-fariseër sien en so sterk gemotiveer het, om sy klip te los en weg te stap vanaf 'n misdaad toneel af?

Net een ding, wil ek graag glo: As ek self 'n fariseër was, en 'n wild Vreemdeling skryf my eie naam in die sand, as een van die medepligtiges, wat ook al saam met hierdie los vrou geslaap het. Ek sou geweldig ontbloot gevoel het en dit sou my godsdiens boksie so erg geskud het terug na my realiteit toe, dat my voete ook sou stof maak. [Hierdie is net my eie mening. Ek is 'n vry-denker. Moet dit nou nie gaan uitgee as dogma nie, asb]

Ek is ten volle oortuig, dat my Verlosser en Meester emosioneel perfek aangeskakel was tot Sy eie Vader se behoeftes en ook die wêreld rondom Hom. En dít, het nog nooit verander nie.

Gebed:

"Vader, maak my meer soos U Seun. Help my, om by Jesus te leer. Hy was U beste voorsiening, wat 'n rôlmodel betref van emosionele intelligensie. Dankie vir die werk, wat U in my begin het, en dankie ook, dat U Self dit gaan voltooi. Here, skakel my emosioneel en geestelik aan tot U behoeftes, om U koninkryk te vestig in my wêreld. In die Naam van Jesus Christus van Nasaret. Amen."

 Geskryf deur: hennie van der westhuizen
(info@paragonlife.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...