Tuesday 12 November 2019

Ydel woorde



Efesiërs 5:6-8: "Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid. Wees dan nie hulle deelgenote nie. Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here - wandel soos kinders van die lig."

Ons teksverse hierdie week, bevat 'n belangrike waarskuwing en ook bekangrike opdragte waarna ons moet kyk.

Die waarskuwing is dat niemand ons met "ydel woorde" moet verlei nie, want daardeur kom God se toorn oor die kinders van die ongehoorsaamheid. Die Griekse woord vir "ydel", beteken ook  "leë" of "nietige". En ons moet ook nie deelgenote daarvan word nie, met ander woorde ons moet nie daaraan deelneem nie.

In kort beteken dit niks anders dat ons nie tyd moet mors in ons daaglikse omgang met "leë" of "nietige" gesprekke nie.

Wat sou dalk leë of nietige gesprekke daarstel?

Die antwoord kry ons in die laaste gedeeltes van die teksverse wat ek aangehaal het. En dit is dat ons vroeër in duisternis gewandel het, maar nou deel is van die lig van die Here. Daarom moet ons wandel soos kinders van die lig en in die lig van die Here.

En as kinders van die lig wat wandel in die lig van die Here, laat ons ons nie meer "verlei met ydel woorde" nie.

Ons kan dus nie meer deelneem aan die "kringe van spotters" (Psalm 1:1) by die werk of tussen vriende nie.

Ons kan nie meer deelneem aan ydele gesprekke vol van skinder nie.

Ons kan nie meer deelgenote wees aan leë vuil grappies of 'n gevloek en skel nie.

Nee, ons woorde moet woorde wees wat hulle oorsprong het in die lig van Jesus Christus, wat diegene rondom ons sal stig, opbou en bemoedig. Spreuke 25:11 leer dat ons woorde moet wees soos goue appels op versierde skinkborde.

Mag die Here Jesus ons in hierdie week aanraak deur Sy Heilige Gees om ons nie te laat verlei deur mense rondom ons se ydele woorde nie, maar om van ons kant af die lig van Jesus vir hulle te laat skyn.


GEBED: 

"Vader, leer my in hierdie week om my nie te laat verlei deur die ydele woorde van mense rondom my nie, maar dat ek sal wandel as 'n kind van die lig, wat die lig van Jesus Christus laat skyn vir almal rondom my. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...