Monday 25 November 2019

Vloek


Ek haal  Keith L. Brooks aan:

"’n Jongman was ’n groot vloeker, maar dit het hom nie gehinder nie. Hy trou toe met ’n pragtige Christen meisie. Daarna begin hy sy vloekgewoonte in ’n ander lig sien en probeer hy om dit af te leer.

Een oggend, voor hulle sou kerk toe gaan, staan hy en skeer. Hy sny hom raak. Voor hy homself kon keer roep hy ergerlik uit: ”God!” Toe eers sien hy hoe sy vierjarige dogtertjie, pop in die arms, vir hom staan en kyk.

Sy sit haar pop neer en kyk met vonkelende ogies rond in die badkamer. “Is God hier?” vra sy opgewonde. Die man word rooi in die gesig en skaam vra hy: “Hoe­kom vra jy so?” “Ek het gedink God is hier want ek het gehoor Pappa praat met Hom.” Sy sien die ont­nugterde uitdrukking op sy gesig. “Roep Hom weer, Pappa. Ek weet Hy sal kom as Pappa Hom roep.”

Die kindjie se woorde sny diep in sy hart in. Hy tel haar op in sy arms en met ’n snik druk hy haar teen hom vas en vir die eerste keer roep hy regtig tot God, om hom te vergewe en hom Sy kind te maak en hom te help om soos ’n Chris­ten te lewe. In daar­die oomblik het hy vry geword van sy vloek­ge­woonte. Saam met sy vrou het hy ’n toegewyde Christen geword."

Wanneer ons in gesprek is, elke dag, enige dag, enige gesprek, en daar glip ‘n vloekwoord uit, is dit soos wanneer jy ‘n brief skryf en dit is vol kladmerke.

Die ergste vloekwoord wat ons egter ooit kan gebruik, is om die naam van die Almagtige God Yahweh of sy seun Jesus Christus te MISBRUIK as ‘n vloekwoord. Hoe durf ons die Naam as ‘n vloekwoord gebruik! Die Naam wat vir my en jou sondes gesterf het word deesdae sommer as ‘n “werkwoord” gebruik!

Die woord van God praat genoeg met ons oor die gebruik van onder andere vuil taal. Lyk vir my dit was in die tyd van die apostels ook ‘n groot problem gewees.

In meer as een sendbrief van die apostels spreek hulle die probleem van kwaad word en vloek aan.

Efesiërs 4:29 Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.
Kolossense 3:8 Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.

Gelukkig stel Jakobus ons gemoed gerus met bemoedigende woorde as hy die mag van ons tonge beskryf. Ons struikel ALMAL elke dag want niemand van ons is volmaak nie.

Jakobus 3:2 Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.

As ons meen dat ons nie struikel nie, tree die sonde sommer dadelik weer in in die vorm van lieg op…

1 Johannes 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Elke keer as iemand vloek, is dit vir my persoonlik soos ‘n mes wat in my hart steek, nie eers te praat van laster nie... maar onder leiding van die Heilige Gees kan ons die persoon reghelp met lankmoedigheid en liefde. Glo my, jy word skeef uitgekyk en afgejak.

Selfs as dit kom by iets soos vloek, kan ons nou maar weer lekker argumenteer daaroor.

"Maar Hein, dis nie vloek nie, dis ‘n werkwoord. Ag Hein, dit beteken iets anders in ‘n ander taal. Hein, hou op so erg wees, dis net ‘n sê-ding. Almal sê dit. Dit staan in die Bybel (verwysing na o.a. Daniel 10:6 en Lukas 10:18) so ek kan dit sê. Hein, sy/hy maak my SO kwaad, toe glip dit uit! Maar Hein, ek vloek al so lank en kan nie ophou nie, maar ek vloek darem al minder."

Jy lieg vir jouself. Filippense 4:13 sê “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”, so ja, ek KAN ophou vloek.

Geliefdes, ons moet by ‘n punt kom waar selfs vloek as absolute gruwel beskou word, want dit is beslis vir God ‘n gruwel.

Lukas 16:15 En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God.

Vloek vandag is baie beslis ‘n voorstaander by die wêreld en word baie "hoog geag".

Ek waarsku jou vandag geliefde, vloek is vir God ‘n gruwel. Hou op daarmee!

Gebed:

"Vader, in die naam van Jesus Christus kom ek vandag voor U troon en bely dat ek ‘n sondige tong in my mond het. U het my in geheel geskape, volmaak, insluitend my tong, so daar is geen rede hoekom ek dit nie in toom kan hou nie. Ek vra asb dat U nou my tong sal seën dat die misbruik van enige woord wat enigsins dalk en selfs net miskien as vloek kan uitglip, en dat U my sal beskerm daarteen sodat ek net sal spreek wat goed is in U oë.
In Jesus Naam
Amen."


Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...