Monday 2 September 2019

Soek God


Jesaja 55:6 & Hosea 10:12: "Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is...want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën."

Hierdie twee teksverse is baie belangriker as wat ons ooit mag dink. Want in die een is daar 'n waarksuwing, en in die tweede een is daar 'n belofte.

Die waarskuwing in die eerste teksvers is dat ek en jy die Here moet soek terwyl Hy nog te vinde is, wat natuurlik die implikasie bring dat daar 'n dag gaan kom wat Hy nie meer te vinde gaan wees vir die wat Hom gaan aanroep nie. Dit beteken ons moet nie uitstel om moeite te doen om God te soek nie.

Hoe soek ons Hom? Deur TYD met Sy Woord te spandeer, en ook deur TYD met Hom persoonlik te spandeer in daaglikse gesprekke (gebed). En verder om ook tyd te spandeer deur soms net stil te sit by Sy voete, en Hom kans te gee om in die stilte diep in ons harte met ons te praat.


En wat is die belofte in die tweede teksvers?

Dat as ons sal aanhou om Hom so te soek, Hy sal kom en geregtigheid oor ons sal laat reën. Daardie geregtigheid verwys na God se manier van dinge doen in ons alledaagse lewens.

As ons dus aanhou om God so te soek, sal Hy kom en Sy manier van dinge doen in ons lewens laat plaasvind, wat beteken Hy sal ons deur Sy Heilige Gees lei om prakties te doen wat Sy Woord ons leer om te doen.

Mag jy in hierdie week 'n daadwerklike keuse maak om GOD TE SOEK in alles wat jy doen!


GEBED:

"Vader, leer my asseblief om U daagliks te soek in alles wat ek doen, deur tyd met U en met U Woord te spandeer, sodat U ook U geregtigheid oor my kan laat reën. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...