Monday 26 August 2019

Hou vas wat jy het !


Openbaring 3:11: "Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie."

Wanneer mens kyk na wat rondom ons gebeur in die wêreld, is daar geen twyfel dat ons werklik aan die einde van die eindtyd lewe nie.

Jesus se tweede koms is baie baie naby, en daarom kom hierdie waarskuwing in vandag se teksvers. Elkeen van ons moet vashou wat ons het, sodat niemand ons kroon kan neem nie. Die Bybel is duidelik dat daar verskillende lone en krone op Jesus se gehoorsame volgelinge wag in die hemel.

Jy is welkom om my volgende YouTube video daaroor te kyk as jy wil.

En uit die aard van die saak sal satan wil sekermaak dat ons nie daardie lone of krone ontvang nie, en sal hy dit by ons probeer steel.


En hoe probeer hy ons krone neem? Deur ons moedeloos, negatief en swaarmoedig te probeer maak oor al die dinge wat rondom ons aan die gang is. En daarvoor gebruik hy baie suksesvol alle vorme van sosiale media waaraan ons kan dink.

Maar hy gebruik ook familielede, werkskollegas en selfs vriende om ons in sommige gevalle so negatief te maak, hoe hartseer dit ookal is. Hier gebruik hy soms verhoudingsprobleme tussen huweliksmaats, of tussen ouers en kinders, om ons so moedeloos of negatief te maak.

Hoekom doen hy dit? Want uiteindelik wil hy baie graag hê dat ons totaal moet wegval van Jesus Christus af, behalwe die feit dat hy nie wil hê ons moet eendag krone in die hemel sal ontvang nie.

En juis daarom kom die woorde van hierdie week se teksvers dat ons moet vashou wat ons het, juis sodat niemand ons kroon kan neem nie. Hoe hou ons vas?

Deur aan Jesus Homself vas te hou, daagliks my Bybel te lees en Sy Woord in te neem, en om deurlopend met Hom in gesprek te wees by wyse van gebed.

Onthou gebed is nie hoogdrawende woorde of net 'n gebedjie in die oggend of in die aand nie. Gebed is ook deurlopende gesprekke met ons Hemelse Vader oor alles waarmee ons op 'n daaglikse basis gekonfronteer mag word.

Mag jy in hierdie week 'n daadwerklike keuse maak om VAS TE HOU AAN JESUS!


GEBED: 

"Vader, baie dankie dat ek vandag mag vra dat U my hierdie week U krag sal gee om vas te hou aan wat ek reeds in U het, sodat niemand my kroon kan neem nie. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...