Tuesday 10 September 2019

Bemoedig mekaar


 In hierdie dae waarin ons leef, trek baie kinders van die Here, baie swaar op verskeie gebiede en is baie van hulle vasgevang in vrees. Daar is baie bekommernisse oor die dag van môre en gryp hulle na elke strooihalmpie wat uitgegooi word om te sê dat dit sal beter word.

Terwyl ek self glo dat ons veilig in Jesus se hande is en dat Hy getrou is aan Sy woord en ook in elkeen van ons behoeftes sal voorsien, lees ek egter ook in die Bybel dat dinge nog erger gaan word. Ons lees van familie-lede wat teen mekaar gaan opstaan...en kry ek ook daarmee te doen in beradingssessies...en allerhande vorme van verdrukking wat in hierdie laaste dae gaan plaasvind.

Ten spyte van dit alles, skryf Paulus dat dit slegs maar ligte verdrukkinge is en hang die impak daarvan op ons lewens, af van hoé ons daarna kyk en op watter manier ons dit hanteer.

2Kor 4:14  Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel.
2Kor 4:15  Want dit is alles om julle ontwil, sodat die genade, wat groter geword het deur so baie mense, die danksegging oorvloedig kan maak tot die heerlikheid van God.
2Kor 4:16  Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.
2Kor 4:17  Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid;
2Kor 4:18  omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Niemand is dus gevrywaar teen die dinge wat nog sal kom nie en glo ek dat die “herlewing” wat almal verkondig en almal só op hoop, dalk op 'n heel ander manier gaan wees as wat baie mense verwag of dink. Dié realiteit is dat ons nie kan bekostig om ons oog NIE op Jesus te rig nie en dat ons baie seker moet maak dat ons leer om na die Heilige Gees se stem te luister.

Terwyl ons dus hierdie dinge rondom ons sien gebeur en sien dat die Bybel in vervulling gaan, dan weet ons dat die einde baie naby is en behoort ons êrens  moeite daarmee te maak om onsself voor te berei.

Terwyl ons dan ook nog die evangelie verkondig aan almal rondom ons deur ons dade en woorde!

Fil 2:12  Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;
Fil 2:13  want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Fil 2:14  Doen alles sonder murmurering en teëspraak,
Fil 2:15  sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,

Dit is dus uiters belangrik dat ons waaksaam en heilig moet lewe in hiérdie tye en dat ons ook mekaar eerder moet bemoedig as om mekaar met vreespraatjies vas te bind aan hiérdie wêreld!

1Th 5:1  Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie;
1Th 5:2  want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag.
1Th 5:3  Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.
1Th 5:4  Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie.
1Th 5:5  Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.
1Th 5:6  Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.

1Th 4:17  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.
1Th 4:18  Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.


GEBED: 
"Here Jesus, dankie dat ons kan weet dat dié dag nader kom dat U weer sal terugkeer soos U belowe het. Dankie dat ons ook kan weet dat U Woord hierdie dinge wat nou aan die gebeur is in hierdie wêreld, reeds vooruit vertel het, sodat ons kan weet om wakker en waaksaam te lewe terwyl ons U koms te wagte is...amen!"



Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...