Monday 19 August 2019

Vrede wat alle verstand te bowe gaan.



Een van die kosbaarste geskenke wat Jesus aan ons agtergelaat het, is: “die vrede wat alle verstand te bowe gaan.” Tog is daar sóveel kinders van die Here wié werklik sukkel om in hiérdie vrede te lewe. Dit is 'n kosbare geskenk wat geen geld of wêreldse besittings, aansien of  titels ooit kan koop nie. Jy kan dit slegs bekom deur werklik in 'n intieme verhouding met die Gewer daarvan te lewe. In Johannes 14 lees ons die volgende:

Joh 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

Ons lees dan ook in die evangeliese boeke, dat wanneer Jesus Sy dissipels uitstuur, Hy hulle dan ook die opdrag gee om, waar hulle ookal kom, die mense te groet met die woord: “vrede”.
Dan sê Hy ook dat as daar iemand van vrede in daardie plek is, dan sal die vrede op hom of haar rus, anders sal dit terugkeer na die dissipels.

Luk 10:5  En in watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis!
Luk 10:6  En as dáár ‘n man van vrede is, sal julle vrede op hom rus; anders sal dit tot julle terugkeer.

Ons lees dan ook op 'n paar plekke dat Jesus gekom het om die evangelie van vrede te verkondig, omdat Hy juis die Een is wié die prys betaal het, sodat daar nou vrede tussen ons en God kan wees.

Act 10:36  Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus—Hy is die Here van almal.

Ef 2:17  En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was;

Vrede is egter 'n keuse soos enige ander ding in hierdie wêreld en hang dit van jou af of jy sal kies om daarin te lewe eerder as om toe te laat dat jou omstandighede of die wêreld rondom jou vir jou gaan dikteer hoé jy elke ding moet hanteer. In die begin van Johannes 14: 27, waarsku Jesus ons dan ook om nie toe te laat dat ons benoud word of vrees nie!

Ons opdrag is dan ook om in vrede met alle mense saam te leef en om vrede na te jaag.

Heb 12:14  Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;
Heb 12:15  en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.

Rom 12:16  wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie;
Rom 12:17  vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense;
Rom 12:18  as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Mat 5:9  Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Mag elkeen van ons in hierdie komende week, 'n keuse maak vir vrede en dit najaag soos 'n kosbare skat!


GEBED:
Here Jesus, baie dankie vir hierdie kosbare skat wat U aan ons agtergelaat het en mag elkeen van U kinders dit najaag en besef dat dit meer werd is as enige aardse skat of besitting...amen!

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...