Monday 19 August 2019

Hoeveel kanse gaan ek nog kry?


Hoeveel kanse kry ek tog wel in my lewe? Beslis baie meer as wat ons dink, ervaar of kan verduidelik!

In die fisiese is daar baie kanse waarvan ons nooit eers sal weet nie, want sê nou net jy het twee minute vroeër gery, was die kans dalk daar dat jy in ‘n ongeluk sou wees. Jy loop verby ‘n konstruksie werksplek in die straat en die kans is daar dat ‘n baksteen dalk op jou kop sou val. Jy loop oor die straat, al kyk jy mooi, is die kans daar dat ‘n motor jou kan omry.

In God se Woord verskyn die woord kans net twee keer in die Afrkaans 1933-53 vertaling. Die eerste keer is gemik op die fisiese voorbeeld soos ek genoem het bo.

Josua 8:20 Toe die manne van Ai agter hulle omkyk, sien hulle hoe die rook van die stad na die hemel optrek; maar hulle het geen kans gehad om hierheen of daarheen te vlug nie, want die manskappe wat op die vlug was na die woestyn, het omgedraai teen die vervolgers.

Ek glo dat dit nie soseer kans in die fisiese is nie, maar wel die beskerming van die engele van God, deur Hom gestuur as ons Hom gevra het vir hulle beskerming wat baie dinge na kans laat lyk.

So kan ons ons “kanse” in die fisiese lewe in elke aspek van die lewe herken. In finansies, werksgeleenthede, gesondheid, lewenstyl, besittings, noem hulle maar. Daar is party kanse wat ons wel kan aangryp en party wat ongesiens verbygaan asook party wat selfs verwoesting inbring as ons die kans gemis het.

As jy dan nou eintlik regtig sit en dink aan hoeveel ter menigte kanse ons tog wel kry in ons lewe in die fisiese, hoeveel kanse dink jy kry ons tog nie in die geestelike nie?

Dit is die geestelike kanse in die lewe wat die meeste afgeskeep word en natuurlik wanneer ons die geestelike kanse weggooi, sal die fisiese ook daaronder ly.

Hoeveel keer is jy al gevra om saam te gaan kerk, biduur, sel groep, seminaar, ens toe, en eintlik is jy nie lus nie, so jy reel eerder iets anders in plek daarvan. Dis ‘n geestelike kans wat weggegooi was!

Hoeveel dae lees jy glad nie die Woord van God nie, dis ‘n geestelike kans om te groei wat weggegooi was.

En so kan ek baie dinge opnoem wat verbeurde kanse uitwys.

Aan die ander kant in die geestelike weer, hoeveel kanse kry jy tog nie om iets te doen VIR die koninkryk van God nie? Help ‘n boemelaar nie net met ‘n geldjie nie, maar deel Jesus ook.

Hoeveel keer het jy oorskiet kos in die huis wat weggegooi word, wat jy eerder kon gaan uitdeel het? Hoeveel keer as iemand na jou toe kom met ‘n probleem, om sommer net te bid vir hom of haar daar en dan.

As ons nie die geestelike kanse aangryp nie, gaan dit nie op ‘n skinkbord vir ons aangebied word nie.

Ons moet die kans aangryp en alles doen in ons vermoë om dit te bewerkstellig, soos genoem in
Lukas 5:19  En toe hulle vanweë die skare geen kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met die bed afsak deur die panne tussen die mense in en voor Jesus.

Geliefde, ek daag jou uit om van vandag af uit te kyk vir die kanse in die lewe. Nie net in die fisiese nie, maar meerso in die geestelike, want dan sal dit beter gaan in alle aspekte van jou lewe gepaard met gehoorsaamheid aan die Woord van God.


Gebed
Almagtige Vader in die Hemel, dankie vir al die kanse wat U my gun in hierdie lewenswandel van my. Ek vra dat U deur U Heilige Gees my sal lei dat ek veral die geestelike kanse in my lewe kan aangryp wat U op my pad stuur.
Gee my asb die krag om alles te doen tot erkenning en tot eer aan Jesus Christus van Nasaret
Amen


Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...