Monday 5 August 2019

Hy verlaat ons nie!


Hebreërs 13:5,6: "...want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen?"

Hierdie is 'n wonderlike bemoediging van ons Here, dat Hy ons NOOIT begewe of verlaat nie. En dit is juis wat ek en jy ook hierdie week moet hoor.

Want so baie kere is ons as gelowiges geneig om te dink dat die Here Jesus ons "verlaat" het, of ons alleen los om self ons eie probleme met die mense rondom ons, op te los.

Maar volgens my, beteken die woord: "nooit", mos steeds niks anders as "nooit" nie. Dit sluit dan ook aan by Jesus se woorde in Mattheus 28:20 dat Hy met ons is, al die dae tot aan die voleinding van die wêreld en ook Galasiërs 2:20 wat bepaal dat Hy IN ons is.

En juis wanneer daardie teksvers vir ons 'n werklikheid word, kan ons verder bemoediging ontvang uit die woorde van vers 6 dat die Here vir ons 'n Helper is, wat meebring dat ek niks hoef te vrees nie, want as hy my Helper is, wat kan ENIGE mens aan my doen?

As jy dus nodig het om hierdie week enige mens te konfronteer oor enige situasie, veral as jy dalk valslik beskulidg mag wees oor iets, staan gerus op hierdie duidelike teksverse.

Ons dien inderdaad 'n wonderlike God wat nooit Sy kinders alleenlaat, of verlaat nie. Hy is altyd daar om saam met ons deur enige situasie in ons lewens te stap, maak nie saak hoe ongemaklik dit mag wees in ons vlees nie.

GEBED: 

"Vader, baie dankie dat ek vandag opnuut mag kennis neem van die feit dat U my nooit begewe en nooit verlaat nie. Help my asseblief om dit elke dag van my lewe te onthou. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...